Franse se glas halfvol ná eindstryd-pyn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kylian Mbappé voel die pyn nadat sy driekuns aan doele nie genoeg was om Frankryk tot ’n oorwinning oor Argentinië in die Wêreldbeker-eindstryd te voer nie.  Foto: Reuters
Kylian Mbappé voel die pyn nadat sy driekuns aan doele nie genoeg was om Frankryk tot ’n oorwinning oor Argentinië in die Wêreldbeker-eindstryd te voer nie. Foto: Reuters

Frankryk sal hartgebroke wees nadat hy die Wêreldbeker-eindstryd teen Argentinië in 'n strafdoelstryd verloor het, maar met die geniale talent van Kylian Mbappé en enorme spelersdiepte tot sy beskikking, behoort hy oor vier jaar weer 'n sterk aanspraakmaker op die kroon te wees.

Die Franse, wat in 2018 die WB-toernooi in Rusland gewen het, moes in Katar weens beserings sonder die Ballon d'Or-wenner Karim Benzema, die doelskieter Christopher Nkunku, die middelveldspelers Ngolo Kante en Paul Pogba oor die weg kom. Hulle het boonop die verdediger Lucas Hernandez in die eerste wedstryd aan 'n besering afgestaan en steeds het hulle die eindstryd gehaal.

Nadat Frankryk verbete teruggeveg het om die telling 2-2 ná gewone speeltyd en 3-3 ná bykomende speeltyd te maak, het Argentinië die strafdoelstryd met 4-2 gewen.

Niks sal die pyn van dié nederlaag minder maak nie, maar ek glo tog dit sal van waarde wees met die oog op die toekoms.

Mbappé, wat Dinsdag sy 24ste verjaardag vier, het al drie Frankryk se doele aangeteken en spog nou met 12 in net twee toernooie.

Hy het al drie sy doele Sondag aangeteken nadat Didier Deschamps, Frankryk se afrigter, vir Randal Kolo Muani (24), Marcus Thuram (25), Eduardo Camavinga (20) en Kingsley Coman (26) as plaasvervangers opgestuur het.

"Hierdie span is 'n reservoir van talent," het Deschamps ná hul teleurstelling in die Lusail-stadion, sowat 20 km noord van Doha, gesê.

Kylian Mbappé teken sy derde doel van die strafkolletjie aan in die Wêreldbeker-eindstryd teen Argentinië. Foto: Reuters
Kylian Mbappé teken sy derde doel van die strafkolletjie aan in die Wêreldbeker-eindstryd teen Argentinië. Foto: Reuters

"Voor hierdie toernooi het ons heelwat spelers met weinig ervaring in ons groep gehad. Maar hulle het nou gewys dat hulle op die hoogste vlak kan speel. Dan was daar 'n klomp beseerde spelers, wat nie in Katar was nie, maar steeds in komende toernooie sal kan speel.

"Dis altyd belangrik dat jou ervare spanleiers die nuwelinge touwys maak, maar ons reservoir is groot."

Volgens Deschamps het spelers wat in die Euro2016-eindstryd gespeel het, 'n deurslaggewende rol in hul WB-triomf in 2018 gespeel en is daardie tipe ervaring van onskatbare waarde.

Hugo Lloris, Frankryk se kaptein en doelwagter, glo die Franse bevind hulle nou in 'n oorgangsfase.

"Niks sal die pyn van dié nederlaag minder maak nie, maar ek glo tog dit sal van waarde wees met die oog op die toekoms. Die aflosstokkie word nou deur 'n generasie in hul skemerlig oorgegee aan 'n nuwe geslag, wat deur Kylian Mbappé gelei word. Hy het in dié toernooi en in die eindstryd gewys oor watter leierseienskappe hy beskik." - Reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA