Messi se Wêreldbeker-speeldae eindig Sondag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lionel Messi vier Dinsdagaand Argentinië se oorwinning oor Kroasië in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images
Lionel Messi vier Dinsdagaand Argentinië se oorwinning oor Kroasië in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Lionel Messi het bevestig dat hy sy laaste Wêreldbeker (WB)-wedstryd gaan speel wanneer Argentinië Sondag in Katar in die eindstryd teen Frankryk of Marokko gaan speel.

Messi het Argentinië Dinsdag in die halfeindronde tot 'n oorwinning van 3-0 oor Kroasië gelei. Hy sal Sondag in sy 172ste wedstryd vir Argentinië speel, wat gaan probeer om die Wêreldbeker vir die eerste keer sedert 1986 te wen.

"Ek voel baie goed en is gelukkig daaroor dat my laaste Wêreldbeker-wedstryd die eindstryd gaan wees," het Messi aan die Argentynse mediamaatskappy Diario Deportivo Ole gesê.

"Dit is baie jare voor die volgende een (Wêreldbeker-toernooi) en ek dink nie ek sal dan nog speel nie. Maar dis die beste om só te eindig soos ek dit nou doen."

Die 35-jarige Messi speel vanjaar in sy vyfde WB-toernooi. Dit is een meer as wat Diego Maradona en Javier Mascherano vir Argentinië gespeel het.

Met sy vyfde doel in Katar - sy 11de in alle WB-toernooie - het hy nou ook vir Gabriel Batistuta as Argentinië se voorste doelevraat by WB-toernooie verbygesteek.

Messi het nou ook al in 25 WB-wedstryde gespeel en is saam met Lothar Matthäus van Duitsland die speler wat nog in die meeste WB-wedstryde gespeel het.

Lionel Messi teken Argentinië se eerste doel met 'n strafskop aan. Dominik Livakovic, Kroasië se doelwagter, kon nie die bal uit sy doelhok hou nie. Foto: Reuters
Lionel Messi teken Argentinië se eerste doel met 'n strafskop aan. Dominik Livakovic, Kroasië se doelwagter, kon nie die bal uit sy doelhok hou nie. Foto: Reuters

"Dit is alles goed en wel (die rekords), maar die belangrikste ding is om die groep se doelwit te bereik, dit sal die beste van alles wees," sê Messi.

"Ná 'n taai stryd is ons net een stappie weg van ons doelwit en ons gaan alles insit om hierdie keer te wen. Wat ons sover in hierdie toernooi bereik het, is ongelooflik en ons gaan in die laaste wedstryd speel, nes ons beplan het."

Argentinië, wat in 2014 laas in die eindstryd gespeel het, gaan probeer om die Wêreldbeker 'n derde keer te wen. Die Argentyne was ook in 1978 en 1986 die kampioene.

'n Paar weke gelede het dit bra onwaarskynlik gelyk dat Argentinië die eindstryd gaan haal toe Saoedi-Arabië hom in die groepfase geskok het.

As Argentinië wel die beker wen, sal dit Messi - 'n sewemalige Ballon D'Or-wenner - tot dieselfde mitiese status verhef as wat wyle Diego Maradona in die land geniet.

Dinsdag se sege het duisende ondersteuners in Argentinië die strate laat invaar om hul land se nasionale span se sesde verskyning in die WB-eindronde te vier.

Frankryk en Marokko pak mekaar Woensdagaand in die ander halfeindstryd om te bepaal wie teen die Argentyne te staan gaan kom.

• Messi, wat 'n paar keer tydens die stryd teen Kroasië aan sy linker-dyspier gevat het, het vrese besweer dat hy nie Sondag sal kan speel nie.

"Ek voel goed en sterk en is reg om te speel," sê hy. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA