Senegal sal nie een van Engeland se sterre vrees wanneer dié twee spanne Sondagaand in die Wêreldbeker-toernooi se ronde van 16 swaarde kruis nie.
So sê die gewese Senegalese doelskieter El Hadji Diouf, wat in sy loopbaan vir Engelse klubs soos Liverpool en Bolton gespeel het.
Die 41-jarige Diouf, wat in 2002 die kwarteindronde van die WB-toernooi as lid van Senegal se span gehaal het, dien in 'n raadgewende en ambassadeurshoedanigheid vir vanjaar se span in Katar.
Senegal het in 2002 'n roemryke oorwinning oor die verdedigende wêreldkampioen, Frankryk, behaal, maar is uiteindelik in die kwarteindronde deur Turkye getroef. Nog 'n lid van daardie span, Aliou Cissé, is die hoofafrigter van die span in Katar.
Ons speel nie vir onsself nie, ons speel vir Afrika.
Senegal het tweede in Groep A geëindig danksy oorwinnings oor Ecuador en Katar en kom nou in Al Chor teen Gareth Sutherland se gedugte Engelse span, wenner van Groep B, te staan.
Hoewel Engeland die oorheersende gunsteling is, glo Diouf, wat 12 jaar lank in die Verenigde Koninkryk gespeel het, Senegal het oorgenoeg rede om te glo hy kan dié stryd wen.

"Hoegenaamd niemand nie," het Diouf geantwoord toe hy gevra is watter Engelse spelers Senegal die meeste sal vrees.
Albei spanne het goeie spelers, sê hy.
"Dis 11 teen 11 op die veld wat vir hul onderskeie nasies gaan veg. Ons sê nie ons gaan die Wêreldbeker wen nie, maar ons wil vir die wêreld wys ons het die beste doelwagter in Edouard Mendy, een van die beste verdedigers (Kalidou Koulibaly) en van die beste opkomende jong spelers," sê Diouf.
"Ek wou my hele loopbaan lank graag teen Engeland speel, maar het nooit die kans gekry nie. Die huidige groep spelers, waarvan die meeste in Engeland woon, kry nou daardie kans en wil wys hoe goed hulle is."
Ons doelwit is om ons spelers te kry om nog 'n trappie hoër te gee as wat hulle reeds het.
Diouf het onthul dat Sadio Mané, Senegal se beseerde ster wat vir Bayern München speel, vir hulle nog voor elke wedstryd in Katar boodskappe van ondersteuning gestuur het.
Volgens Diouf wil Senegal ook sy beste vir die hele Afrika lewer.
"Ons speel nie vir onsself nie, ons speel vir Afrika. Sokker is meer as net 'n sport op ons vasteland en daarom beteken dit so baie vir ons om hier te kan speel en nou ook die uitkloprondes te haal," sê hy.
"Ja, ons kom nou teen 'n span met 'n groot reputasie, goeie spelers en 'n goeie spangees te staan. Maar dit herinner my aan ons wedstryd teen Frankryk in 2002. Ons doelwit is om ons spelers te kry om nog 'n trappie hoër te gee as wat hulle reeds het."
Die naweek se wedstryde in die ronde van 16:
Saterdag 17:00: Nederland t. VSA 21:00: Argentinië t. Australië
Sondag 17:00: Frankryk t. Pole 21:00: Engeland t. Senegal




















