Die grondwetlike bestaansrede vir plaaslike regerings is sorg, maar die werklikheid is ver daarvan verwyderd, skryf Kobus Wessels.
Die 2024-verslag van die Vrystaatse kantoor van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor die stand van dienslewering deur munisipaliteite in die Vrystaat het die kollig opnuut op die verbrokkelende plaaslikeowerheidsfeer laat val.
Die berig van 20 Maart oor die jare lange versuim van die Kopanong- plaaslike munisipaliteit in die Suid-Vrystaat om die watersuiweringsaanleg van Philippolis te voltooi het veral my aandag getrek. Só het Netwerk24 ook daaroor verslag gedoen. Hierdie versuim is volgens die SAMRK nie slegs tekenend van 'n wanfunksionele munisipaliteit nie, maar van 'n skending van die inwoners se menseregte.
Ek is 'n boorling van Philippolis en het my eerste agt lewensjare daar en in Oranjekrag (nou Gariep) deurgebring. Daardie gebied is my hartswêreld. Hoe is dit dat Kopanong nie sy grondwetlike bestaansrede van sorg nakom nie? Om dit te verstaan, is dit nodig om Kopanong binne sy konteks te beskryf en te ontleed.

G'n uitsondering nie
Kopanong is 'n kategorie-B3- (kleindorp-) plaaslike munisipaliteit wat ongeveer 15 648 km² beslaan - die grootste geografiese gebied van al die munisipaliteite in die Vrystaat. By laaste telling het 51 832 mense (net meer as drie inwoners per vierkante kilometer) gewoon in hierdie uitgestrekte gebied, wat Philippolis, Bethulie, Edenburg, Fauresmith, Gariepdam, Jagersfontein, Reddersburg, Springfontein, Trompsburg en Waterkloof insluit. Die mense van hierdie gebied word deur 17 raadslede bedien - een raadslid vir elke 3 049 inwoners, of een raadslid vir elke 920 km².
Saam met Letsemeng en Mohokare vorm Kopanong deel van die Xhariep-distriksmunisipaliteit.

Die Vrystaat het een metropolitaanse munisipaliteit (Mangaung), vier distriksmunisipaliteite en 18 plaaslike munisipaliteite.
Luidens die 2024-verslag van die SAMRK is 11 van hierdie 23 munisipaliteite wanfunksioneel. Dit is veral kommerwekkend dat Mangaung, die Vrystaat se enigste metro, een van die 11 is. Dit is dus nie slegs ylbevolkte plaaslike munisipaliteite wat sukkel nie.
Wat sake nog slegter laat lyk, is dat geen munisipaliteit in die Vrystaat die afgelope ses jaar 'n skoon oudit gekry het nie. Die sukkelende Kopanong is dus geen uitsondering nie, maar in die "goeie" geselskap van swak presteerders.
Middelpresteerder met gróót probleme
Tot Kopanong se krediet kan 'n mens daarvan kennis neem dat die munisipaliteit sesde (uit 18) in die Vrystaat en 122ste (uit 205) landwyd gegradeer is op Good Governance Africa se 2024-indeks vir bestuursprestasie vir plaaslike munisipaliteite. Ongeag dat dié indeks Kopanong as 'n middelpresteerder kategoriseer, dui die bevindinge van die MRK op ernstige probleme. Daaronder is:
• Die waarnemende munisipale bestuurder se aanvanklike versuim om voor die SAMRK te verskyn;
• Die hoë vakaturekoers in seniorposte in die munisipaliteit;
• Ongereelde salarisuitbetalings aan personeel;
• Gebrekkige verhaling van betalings vir dienste gelewer;
• Hoë skuldvlakke aan veral grootmaat-diensverskaffers;
• Besoedeling van die omgewing en waterbronne;
• Voortdurende gebrekkige toegang tot water vir inwoners; en
• Verouderde water- en sanitasie-infrastruktuur.

Hoekom is plaaslike owerhede wanfunksioneel?
Luidens 'n 2023-verslag van die departement van samewerkende regering aan die betrokke parlementêre portefeuljekomitee is dit te wyte aan toesiginstellings (komitees oor openbare rekeninge en ouditkomitees) wat nie hul werk doen nie, asook die afwesigheid van politieke en administratiewe leierskap. Dit het tot gevolg dat munisipaliteite nie hul verpligtinge ingevolge die Grondwet en toepaslike wetgewing nakom nie.
Die fokus skuif onwillekeurig na die mense binne hierdie instellings: onbekwame politieke leiers en amptenary. Dit is geen geheim nie dat die sake wat deur munisipale rade oorweeg moet word dikwels van hoogs tegniese aard is. Hierdie sake word deur 'n komplekse netwerk van wetgewing en ander voorskrifte gereël. Die vraag kan met reg gevra word of lede van die munisipale rade werklik oor die kennis, ervaring en insig beskik om oorwoë besluite te neem om die uiteenlopende belange en behoeftes van inwoners met die beperkte beskikbare finansiële en ander hulpbronne te versoen.
Daar kan natuurlik aangevoer word dat hulle op die kundige advies van ervare en professionele amptenare kan staatmaak. Wat Kopanong betref, blyk dit uit The Local Government Handbook South Africa 2025, asook die 2024-MRK-verslag, dat daar slegs 'n waarnemende munisipale bestuurder is. So word byna al die senior bestuursposte deur waarnemende amptenare gevul. Daar is dus geen kundigheid, ervaring of professionele oordeel nie. Dit blyk 'n algemene probleem in die Vrystaat te wees.

Die SAMRK wys spesifiek op die wydverspreide voorkoms van gebrekkige kennis, vaardighede en ervaring onder munisipale personeel. Dit is veral die algemene hoë vakaturekoers in die tegniesedienste-departemente wat lei tot die ineenstorting van infrastruktuur-afhanklike dienslewering.
Waarom is dit so? Is daar dan nie voldoende kundige mense in die Vrystaat wat gewerf en aangestel kan word nie? Of is dit weens 'n praktyk van onbekwame politieke aanstellings?
'n Verwante personeelprobleem blyk munisipaliteite se afhanklikheid van uitgekontrakteerde dienslewering te wees. Dit lei weer tot die voortgesette indienshouding van kontrakpersoneel selfs ná die verstryking van hul kontraktermyn. Op langtermyn word kundigheid klaarblyklik nie gebou nie. Kontrakteurs met gespesialiseerde kennis en ervaring word eerder vir 'n tydperk aangestel, waarna hulle weer saam met hul kundigheid en ervaring vertrek. Gevolglik is daar weinig senior permanente personeel met die nodige kundigheid en institusionele kennis en geheue.
Plat beursies
Die probleem van ontoereikende personeel loop ongetwyfeld hand aan hand met die benarde finansiële situasie van byna al die Vrystaatse munisipaliteite. Die MRK-verslag verwys byvoorbeeld na 'n onvermoë om voldoende inkomste te genereer of in te vorder. Wat Kopanong betref, so berig Netwerk24, is die munisipaliteit se invorderingskoers so laag as 20%.
Hoë vlakke van verliese kom by munisipaliteite voor omdat verouderde infrastruktuur óf nie in stand gehou word nie óf nie opgegradeer word nie. Water en elektrisiteit word dus ten duurste aangekoop en dan amper verniet weggegee. Dit verklaar waarom Vrystaatse munisipaliteite so diep in die skuld by Eskom en waterrade is.
Die meeste munisipaliteite is as gevolg van hul gebrekkige inkomste-invordering en verliese weens verbrokkelde infrastruktuur afhanklik van oordragbetalings om hul daaglikse funksionering te finansier. Hierdie oordragbetalings is eintlik vir infrastruktuurprojekte en die betaling vir dienste aan armes bedoel.
Wanneer die nasionale tesourie oordragbetalings weens swak munisipale finansiële administrasie terughou, veroorsaak dit ongereelde uitbetaling van salarisse aan munisipale amptenare. Die absurde situasie is dat geld vir dienste nie ingevorder word nie, finansiële toedelings vir infrastruktuur en dienste aan armes word nie daarvoor aangewend nie, en amptenare word nie betaal nie.
Vrugtelose, verspilde en onreëlmatige uitgawes is aan die orde van die dag. Sommige munisipaliteite hou nie eens bateregisters op datum nie. Dit is dus geen wonder dat Vrystaatse munisipaliteite so 'n swak ouditrekord het nie.

Dis 'n wêreldwye verskynsel dat munisipaliteite gebuk gaan onder nypende tekorte aan geld. In die VSA het munisipaliteite meer as 'n dekade gelede reeds erge begrotingsprobleme en selfs bankrotskap ervaar. Dit het ook hul vermoë aangetas om volhoubaar dienste aan veral die kwesbare lede van die bevolking te lewer.
So is plaaslike owerhede in Brittanje ook afhanklik van 'n hoogs gesentraliseerde finansieringstruktuur om hul funksies te kan uitvoer. Die druk om te bespaar, asook besnoeiings van oordragbetalings deur die sentrale regering, het gelei tot omvattende herstrukturering van munisipale funksies.
In Suid-Afrika is dit nie veel anders nie. Voorsiening word gevolglik gemaak vir die billike verdeling van daardie inkomste wat op nasionale vlak ingevorder word tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfeer, asook vir die bevordering van samewerking tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike owerheidsfere oor fiskale, begrotings- en finansiële sake.
Munisipaliteite word dus nie aan hul eie lot oorgelaat nie. Hulle het egter baie spesifieke verantwoordelikhede wat duidelik deur wetgewing omskryf word. Die belangrikste is sekerlik die grondwetlike bepaling dat 'n munisipaliteit daarna moet streef "om binne sy finansiële en administratiewe vermoë" te funksioneer.
Met gebrekkige politieke en administratiewe leierskap en swak personeel- en finansiële bestuur kan munisipaliteite nie anders as om geleidelik tot stilstand te knars nie. So verwys die SAMRK-verslag na die swak bestuur van vullisterreine, ontoereikende vullisverwyderingsvoertuie en wydverspreide oortredings van die Nasionale Waterwet en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur. As daar nie bekwame personeel is nie, kan daar mos nie waterbestuurplanne wees nie.

Hoe raak dit gemeenskappe?
Ongetwyfeld kom daar min tereg van die oogmerke van plaaslike regering soos uitgespel in artikel 152(1) van ons Grondwet. Hierdie oogmerke vergestalt 'n sosiale ontologie van sorg. Dit beteken die bestaansrede van munisipaliteite kan saamgevat word in die begrip "sorg". Die verkose raadslid, professionele amptenaar, asook die raad en administrasie as instellings, is veronderstel om hul eiesoortige rolle binne die grense van die munisipaliteit, distrik, provinsie en land met uitermatige sorgsaamheid te vervul.
Sorg is dus van sleutelbelang vir munisipaliteite en hul gemeenskappe. In dié verband verwys die outeur Patsy Healey in haar 2022-boek Caring for Place na hoe groepe mense "care for their place and shape their futures".
Die geograaf Karen Till verwys in 'n artikel in 2012 oor "place-based ethics of care" na stede as plekke "that offer its residents care", terwyl die Franse filosoof Bernard Stiegler (2015) in sy boek States of Shock: Stupidity and Knowledge in the 21st Century waarsku teen "an economy of carelessness and neglect". Inwoners van munisipaliteite verdien om versorg te word ten einde ook vir mekaar te kan sorg.
Met die ryke akademiese literatuur oor die etos van sorg binne die konteks van plaaslike regering as agtergrond is dit belangrik om na te dink oor wat die SAMRK in sy 2024-verslag bevind oor die gevolge van die afwesigheid van sorg by die betrokke munisipaliteite:
• Onvolhoubare dienslewering is aan die orde van die dag
Behalwe vir die hoë waterverliese, ervaar talle gemeenskappe gebrekkige toegang tot water en selfs water van swak gehalte.
Wat kragverskaffing betref, is "volhoubaarheid" ook 'n leë begrip. Kragonderbrekings blyk aan die orde van die dag te wees. Dis onder meer as gevolg van onwettige koppelings aan kragnetwerke en die omseiling van kragmeters, die vandalisering van infrastruktuur en die gebrekkige beskerming daarvan.

• Van 'n veilige en gesonde omgewing is daar ook min sigbaar
Voorbeelde van rioolvuilstortings in woongebiede en selfs naby skole is aan die orde van die dag. Die verslag wys op die voorkoms van puttoilette, gebrekkige vullisverwydering, 'n tekort aan vullisstortingsterreine, onwettige vullisstortings en gevalle van omgewingsbesoedeling. Om nie eens te praat van die swak en onveilige toestande van munisipale paaie nie.
• Lewensgehalte van inwoners
Munisipaliteite slaag duidelik nie daarin om die lewensgehalte van inwoners te verbeter nie. Wat is die rede daarvoor? Hou dit dalk verband met 'n oënskynlike gebrek aan demokratiese en verantwoordingspligtige plaaslike regerings? Gee raadslede en amptenare regtig om oor hul onderskeie rolle binne 'n munisipaliteit en oor die lewensgehalte van die inwoners van die betrokke munisipaliteit?
• Onvolhoubare dienslewering
Dit blyk uit die wydlopende voorbeelde van volgehoue swak dienslewering dat sorg, besorgdheid en versorging afwesig is. Waar dit sekerlik nie die verantwoordelikheid van 'n munisipaliteit alleen is om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder nie, is dit 'n grondwetlike verantwoordelikheid om ten minste 'n omgewing te skep wat bevorderlik daarvoor is.
Onvolhoubare dienslewering en infrastruktuur smoor enige poging van 'n gemeenskap en private inisiatief om ontwikkeling te stimuleer en vir mekaar te sorg, in die kiem.
Uit die SAMRK-verslag klink 'n helder plaaslike noodkreet na sorg. Net sorg, basiese sorg soos wat die Grondwet dit uitspel. Sorg volgens redelike wetgewing en posbeskrywings. Sorg wat eintlik 'n vanselfsprekendheid moet wees.
My hartland, Philippolis, en die ander dorpe binne die grense van Kopanong verdien die sorgsaamheid van denke en handelinge van 'n demokraties verkose plaaslike raad en bekwame amptenary.

• Wessels is 'n emeritus professor in publieke administrasie aan Unisa. Die menings in dié artikel weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

















