‘Oomblik van verrukking’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Louisemarié Combrink bekyk die kunswerke van Breyten Breytenbach, wat op 24 November in die ouderdom van 85 jaar in Parys, Frankryk, gesterf het.

Breyten Breytenbach in 2013 in Kaapstad by sy kunsuitstalling getiteld Vingerverhale. Foto: Gallo Images
Breyten Breytenbach in 2013 in Kaapstad by sy kunsuitstalling getiteld Vingerverhale. Foto: Gallo Images

Die meeste van ons ken Breyten Breytenbach vir sy letterkundige werk, veral as 'n digter van opstand, maar ook vir sy gedigte met liriese bepeinsings oor die vervlietendheid van die lewe, die liefde en hunkering.

Dalk weet minder mense dat Breytenbach 'n gerekende internasionale kunstenaar is. Sy werke, in waterverf, gemengde media en olieverf, word steeds interna­sionaal uitgestal in gerekende kunsruimtes.

Breytenbach is in 1939 gebore op Bonnievale, so 180 km van Kaapstad af. Hy studeer visuele kuns aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste in Kaapstad.

Hy verlaat Suid-Afrika en vestig hom in Parys in die vroeë 1960's. Daar trou hy met Yolande, 'n Franse vrou van Viëtnamese afkoms. Hierdie huwelik is in Suid-Afrika se apartheidskonteks onwettig, onder meer ingevolge die Ontugwet van 1950.

Breytenbach besoek Suid-Afrika in 1975, maar word in hegtenis geneem en vir nege jaar tronk toe gestuur weens hoogverraad. Hierdie ervarings word beskryf in sy werk The true confessions of an Albino Terrorist. Hy skryf ook in hierdie tyd sy gedig "Ballade van ontroue bemindes".

Breytenbach is in 1982, ná sewe jaar in die tronk, vrygelaat te midde van internasionale protes teen sy aanhouding. Hy keer daarna terug Frankryk toe.

Dit is 'n vol lewe beskryf in breë kwashale.

As kunstenaar maak Breytenbach veral naam in Europa. Sy eerste solotentoonstelling was in 1964 en dit is ook die jaar waarin hy sy eerste digbundel (Die ysterkoei moet sweet) en sy eerste prosa-bloemlesing (Katastrofes) publiseer.

Dit was nie sommer 'n solo-tentoonstelling by enige ou plekkie nie. Hy stal uit by die Galerie Espace in Amsterdam, waar sy naam saam met grotes soos Karel Appel en Francesco Clemente verskyn. Vele merkbare uitstallings volg.

Oor sy visuele kuns maak Breytenbach interessante opmerkings. In 'n onderhoud in 2017 vertel hy dat hy skilder bo skryf verkies. Dit gaan vir hom oor die tasbare aspek daarvan: 'n mens kan verf ruik en voel. Dit red hom van die doolhof waarin hy voel digters maklik kan beland, wat hul gedagtes en skeppingsproses betref.

Hy sê as jy net dig, gaan jy een of ander tyd van jou sinne af raak. Skilder, sê hy, het hom van hierdie waansin gered.

In 'n onderhoud met Bill Dodd op www.meer.com sê Breytenbach dat die digter, en ook die skilder, deurentyd moet luister na wat na hulle toe kom. "Die mistikus koop 'n oomblik van verrukking uit 'n leeftyd van verwarring," vertel hy.

En, bespiegel hy, al wat 'n mens eintlik oor 'n gedig of 'n skildery kan sê is: Kyk daarna, luister daarna. Vir hom ontstaan "betekenis" nadat die beelde of beeldspraak vasgelê is en 'n mens daarmee omgaan. Hierdie benadering is een van uitnooi, dat die kyker of leser moet saamwerk om die werk te voltooi deur verbeeldingryk daarmee om te gaan.

Breytenbach se visuele werke het 'n unieke styl en ikonografie (verwysend na die "goeters" in 'n werk - 'n appel, 'n figuur, 'n boom). Ons sien vreemde figure in sy werke, surrealisties benader. Daar is ook vreemde onbeweeglike diere, voëls en visse, en heelwat verwysings na tronkselle.

Sy werkproses word duidelik gerig deur die onbewuste. Wanneer hy skilder, is dit 'n proses van soek na hoe om 'n figuur in 'n ruimte te laat bestaan, om te "luister" na hoe 'n simboliese iets moet lyk, en om die wisselwerking tussen die verskillende goed in die werk te ondersoek.

Daar is ook 'n lansie te breek vir die Mondmusiek-projek wat 'n samewerking tussen Breytenbach en die kunstenaar Albert du Plessis is. Hierdie projek is reeds 21 jaar oud en dalk een van die heel mooiste verwerkings wat daar is van sy gedigte. Hier lees hy met sy dralende, nasale stem van sy gedigte met musikale verwerkings waarop die woorde dryf.

Koop die CD of luister ten minste op YouTube daarna; my gunsteling is die aangrypende opname van "Ek sal sterf en na my vader gaan" wat jy kan vind onder Mondmusiek op YouTube. Luister gerus. Dit is 'n belewenis. En gaan kyk na sy ongelooflike skilderwerke as jy ooit die geleentheid kry.

Foto:
Foto:
  • Dr. Combrink is 'n senior dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Sy gesels Sondae tussen 13:05 en 14:00 in Esté Gross se program Wat's nuut? Dis klassiek! op PretoriaFM oor kuns.
Louisemarié Combrink

SPELETJIES VANDAG

CTA