Aktueel

Repliek: Nee, bloekoms ís eintlik bliksems

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Anders as wat sommige aanvoer, is bloekombome inderdaad sleg vir die omgewing, skryf Berta van Rooyen.

Bloekoms word van die oewer van die Breërivier by Robertson in die Wes-Kaap verwyder om die vloei van die rivier te verbeter. Foto: Getty Images
Bloekoms word van die oewer van die Breërivier by Robertson in die Wes-Kaap verwyder om die vloei van die rivier te verbeter. Foto: Getty Images

In my kleintyd is al die groot maar verpotte bloekombome na aan ons huis afgekap omdat dit die mure van die huis laat bars het.

Ry vandag vanaf die Moederstad met die N2 George toe. Met die verbygaan sal jy 'n hele paar bloekomplantasies teëkom. Kyk mooi na die grond onder hierdie bome: Daar groei omtrent niks nie.

Die bosbouer prof. Ben du Toit erken weliswaar in die artikel "Alle bloekoms is nie bliksems nie" verlede week op hierdie blaaie dat bloekombome in Suid-Afrika in plantasies hoort. Soos hy tereg sê, is die houtbedryf van ekonomiese belang en 'n belangrike werkverskaffer.

Die artikel vertel egter nie die hele storie nie.

Die eerste bloekoms (of gombome) in Suid-Afrika is in 1876 deur koloniale bosbouers in die vleigebied van Worcester aangeplant om die muskietplaag te beheer en om brandhout vir die eerste stoomlokomotiewe aan die Kaap te verskaf. Die vinnige groeitempo van hierdie bome het die bosbouers so opgewonde gehad dat bloekoms daarna vir jare naby water aangeplant is om vinnige groei te verseker. Tewens, die Tokai-arboretum suid van Kaapstad teen die hange van die Constantiaberg wat in 1886 gestig is, is in 1892 verder uitgebrei, spesifiek om etlike "toetsbome" in groepe aan te plant. Tussen die Prinskasteelrivier en die kwekery is 'n verdere 13 bloekom­spesies aangeplant.

Hierdie kwekerye en plantasies was slegs moontlik deur al die natuurlike plantegroei, ook in die klowe en rivier­oewers, te verwyder. In Tokai het dié aanplantings reeds in die laat 1890's eens standhoudende bergstrome in seisoenale stormwatervore verander.

Gevolglik is paaie op rivieroewers aangelê of selfs in rivierbeddings, soos die wapad van 1899 vanuit die kwekery en die bergpad oor die vierstroomsamevloeiing van die Vlagstokrivier. Hier het vier strome - die As-, Middel-, Roper- en Vlagstokstroom - bymekaargekom nadat dit vir bykans 1,4 km parallel met mekaar geloop het. Dit is 'n unieke verskynsel in die Tafelberg Nasionale Park (TNP). Vandag word die gebied deurkruis met bergfietspaaie.

Teen die 1900's was die watertekort by die aangrensende Porter-verbetering­skool in Tokai so erg dat die bosbouers versoek is om alle gombome op die oewers van die riviere te verwyder. Die probleem het egter net erger geword en teen 1913 was al die standhoudende riviere in die omgewing opgedroog en moes die oorspronklike kwekery gesluit word. Die bosbouers was egter nie die enigste skuldiges nie. Hermann Orpen van die Porterskool en -gevangenis het self gombome in die Ondertuine, rondom die skoolkerk en by die konstabel­wonings aangeplant. Vandag is Orpen se gombome 'n groot bydraende faktor tot die seisoenale verspoeling in Orpenweg.

’n Omgewaaide bloekomboom sowat 50?m binne die Tokai-arboretum. Die ontworteling van ou gombome soos dié is ’n jaarlikse tendens.
’n Omgewaaide bloekomboom sowat 50?m binne die Tokai-arboretum. Die ontworteling van ou gombome soos dié is ’n jaarlikse tendens.

Die stryd om die nasionale park tot stand te bring het 'n lang geskiedenis met 'n paar bewaringsdoelwitte. Een daarvan is om die Tokai- en Ceciliaplantasies (laasgenoemde grens aan die Kirstenbosch- botaniese tuin) te herstel tot sy voormalige fynbosglorie.

Die reg om met jou honde in 'n deel van die Tokai-plantasie te stap dateer terug na 1970 - op die kruin van afsonderlike ontwikkeling en ironies genoeg op dieselfde tyd dat vier plaaslike bruin gemeenskappe gedwing is om hul eiendomme te verlaat.

Die uitfasering van hierdie twee niewinsgewende plantasies word egter nou al vir jare teengestaan deur drukgroepe, veral inwoners van Constantia - seker een van die mees welaf woonbuurte in die land. Enige pogings om dié plantasies uit te kap word gewoonlik begroet deur 'n koor van opponente wat die owerhede dwing om die negatiewe publisiteit te bestuur en dus net die intrinsieke koste van so 'n program verhoog. Die pro-plantasiegroepe heg soveel sentimentele waarde aan uitheemse skadu­bome dat hulle aanvoer dat hul "gesondheid en geestelike welstand" daarvan afhang (soos geredeneer in 'n onlangse verslag van hierdie belangegroepe). Sommige gaan selfs verder om aan te dring dat daar méér uitheemse bome aangeplant word - soos die Corymbias ('n genus nou verwant aan die bloekom en veral bekend vir sy rooi en geel blomme) wat tydens die 2015-brand in die gebied vernietig en daarna verwyder is.

Die opruiming van bloekoms en ander uitheemse spesies in gebiede wat voorheen plantasies was, is 'n ingewikkelde en uitdagende proses omdat die grond besmet is met saad wat met elke fynbosbrand van voor af kan ontkiem.

Historiese verslae oor aanplantings help, maar nie om jong opslag korrek te identifiseer vir behandeling nie. Daar is rondom 50 verskillende bloekomspesies in Tokai gekweek en saailinge is na ander bosboustasies in die Wes-Kaap versprei en privaat aangekoop.

Ou bloekomplantasies wat deesdae steeds in ontspanningsgebiede voorkom - soos Tokai en Cecilia - hou 'n wesenlike veiligheidsrisiko in. In Australië staan gomboomplantasies nie verniet as weduweemakers bekend nie. Kaapse stormwinde werp gereeld takke neer, so swaar dat hulle soms tot 20 cm in die grond vassteek. In Maart 2002 is drie meisietjies langs die Prinskasteel-kanaal op die Tokai-piekniekterrein deur so 'n tak vasgepen. Net een kindjie het oorleef.

Dit is almal praktiese voorbeelde en bewys van die skade wat indringer­bome veroorsaak, een wat 'n groot vraagteken oor Du Toit se standpunte, soos verwoord in Carié Maas se artikel, plaas.

Daar is 'n reuseverskil tussen gombome in kommersiële plantasies, maar oor die baie euwels van bloekoms op private en staatsgrond buite plantasies word niks gesê nie. Die kommentare op Netwerk24 in reaksie op Maas se skrywe wat die lof van bloekombome besing, wys juis op die gevare van 'n eensydige aanbieding soos dié.

Deur net op bosbou te fokus laat Maas 'n uitstekende geleentheid verbygaan om ook die aandag te vestig op die belang van die verwydering van indringers.

Dit is betreurenswaardig dat die menings van ekoloë oor dié uitdagings van die hervestiging van fynbos in die Wes- Kaap ontbreek.

Die saadverspreiding van dié ou plantasies het ooglopend so handuit geruk dat dit baie moeilik is om die tipe spesie van saailinge en opslagbome te bepaal en met die regte tipe en dosis plantgif te behandel. Ongelukkig het heelwat van hierdie selfopskieters groot bome geraak. Dit is hierdie bome wat nou, volgens plaaslike "boomroepers", onaantasbaar geword het.

Nie alle plantasies in die Wes-Kaap is bestem vir fynboshervestiging nie. Tog moet soveel moontlik gebiede waarin bedreigde fynbosspesies voorkom - groot dele daarvan verklaar tot Wêrelderfenisgebiede - teen indringers soos gombome beskerm word.

Maas se klap aan kunstenaars wat minder vleiend oor bloekoms sing en dig, is ironies gesien in die lig dat ons die prag van ons fynbos-erfenis net so gereeld in die kunste besing, bedig en beskilder.

Koloniale grondbesetting het met ekonomiese oorlewing gepaard gegaan en om die bloekom en die mieliepit in dieselfde asem te noem is 'n vals analogie en heeltemal onnodig.

Beskou eerder die kultuurnalatenskap van fynbos, want dit strek oor tyd, groepe en hul voor- en afkeure. So kry die naamgewing en medisinale gebruik van fynbos deur die San en die Khoi erkenning. Geskiedenis en argeologie of die afwesigheid van argeologiese reste toon aan waarom sekere gebiede nie bewoon of bewei is in die voorkoloniale verlede nie. Kulturele en natuurlike erfenis kan net tot sy reg kom as die omgewing toegelaat word om so na as moontlik aan die oorspronklike herstel te word. Die werk wat gedoen word om die Prinsesvlei, nie ver van die Tokai-plantasie af nie, te rehabiliteer is 'n uitstekende voorbeeld hiervan.

Deeglike navorsing deur uitstekende historici wat nie meer met ons is nie, dui aan hoe grondeienaarskap van die San na die Khoe, die Nederlanders en uiteindelik die Engelse oorgegaan het. Die gomboom het nie daarin 'n rol gespeel nie. Inteendeel. Navorsing dui op die benutting van fynbos deur die Nederlanders op 'n manier waar fynbos in siklusse toegelaat is om ongehinderd te groei en geoes te word.

Hierdie geskiedenis is moeilik te vergelyk met 'n enkele eeu en 'n bietjie se bosbou in Tokai, Cecilia en ander plekke teen die hange van Tafelberg.

Deur net op bosbou te fokus laat Maas 'n uitstekende geleentheid verbygaan om ook die aandag te vestig op die belang van die verwydering van indringers en die herstel van die omgewing.

• Dr. Berta van Rooyen werk reeds die afgelope dekade as 'n vrywilliger om die verspreiding van uitheemse bome teen die hange van Constantia- en Tafelberg te stuit. As historikus het sy ook die geskiedenis van veral bosbou in die gebied nagevors.

Berta van Rooyen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM