Kommentaar: Discovery se duur les ook op ander van toepassing

Hoe is dit moontlik dat ’n fout wat uiteindelik R125 miljoen beloop nie iewers in die loop van ’n boekjaar registreer nie?
Hoe is dit moontlik dat ’n fout wat uiteindelik R125 miljoen beloop nie iewers in die loop van ’n boekjaar registreer nie? (Foto: Verskaf)

Dis te verwelkom dat Discovery Health uiteindelik besluit het om self op te dok vir ’n stelselfout van byna R125 miljoen wat veroorsaak het dat voordele verlede jaar verkeerd bereken is.

Aanvanklik het die mediese fonds daarop aangedring dat lede wat deur die fout geraak is, self die geld wat foutiewelik as voordele aan hulle uitbetaal is, moet terugbetaal. Dit het ’n geweldige teenreaksie ontlok. En met reg so.

Die probleem is nou opgelos, maar daar hang steeds ernstige vrae. Hoe is dit byvoorbeeld moontlik dat ’n fout wat uiteindelik R125 miljoen beloop nie iewers in die loop van ’n boekjaar registreer nie? En selfs al word geoutomatiseerde stelsels gebruik, behoort daar prosedures gevolg te word wat sulke foute kan ondervang. Die Wet op Mediese Skemas verwys juis na prosedurele billikheid, waarvolgens ’n mediese fonds ’n diensverskaffer of ’n lid binne 30 dae in kennis moet stel van foutiewe betalings.

Mediese fondse is vinnig om eise af te keur. Dit val dus vreemd op dat Discovery so gesloer het om sy eie fout op te tel en reg te stel. Dis daarom ook goed dat die Raad van Mediese Skemas die voorval gaan ondersoek.

Wat hier gebeur het hou egter ook implikasies in vir ander maatskappye. Eerstens, die potensiële skade aan reputasie wat aangerig word wanneer verantwoordelikheid vir foute ontduik word in ’n soort korporatiewe afknouery. Tweedens, die belangrikheid daarvan om ’n onderneming te bestúúr en dit nie aan “stelsels” oor te laat nie. Dit beteken ook kennis van en begrip van die wetlike raamwerk waarin so ’n onderneming funksioneer.

Dit sal maatskappye baat om weer die King-kode vir korporatiewe bestuur af te stof, waarin die kernbeginsels onder meer verwys na etiese leierskap en die insluiting van rolspelers in besluitneming. En – soos in hierdie geval bewys is – die belangrike fokus op uitkomste – dat ’n onderneming nie bloot kan funksioneer op die aftik van blokkies nie.

Ten slotte is hierdie voorval ’n bewys daarvan dat verbruikers nie net regte het nie, maar dat hulle dit aktief moet opeis. Nie net om hulself te beskerm teen uitbuiting nie, maar om die bestuur van groot maatskappye tot verantwoording te roep.

SPELETJIES VANDAG

CTA