Kommentaar: Maak ministers se KPA’s weer openbare kennis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Cyril Ramaphosa  Foto: Gallo Images
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Gallo Images

Pres. Cyril Ramaphosa is ondanks ernstige fiskale uitdagings nie van plan om sy regering van 34 ministers en 43 adjunkministers gou te verklein nie, blyk uit 'n antwoord op 'n parlementêre vraag.

Met sy ampsaanvaarding het Ramaphosa aanvanklik gesê die regering moet kleiner. Met sy eerste kabinetskommeling was sy verskoning dat hy die "belyning" van staatsdepartemente sinvol wil laat ondersoek. Met die tweede is dit vergroot met 'n slim verskoning: Dis "net tydelik" - die elektrisiteitskrisis noodsaak dit. Nou is dit die veelparty-eise van die regering van nasionale eenheid (RNE) wat 'n verkleining verhinder.

Laasgenoemde is uiteraard verstaanbaar, maar waar is die waarborg vir 'n gepaardgaande verhoogde uitset?

Ramaphosa het in sy 2020-staatsrede met groot fan­fare aangekondig: "Om die vermoë van die staat te versterk en aanspreeklikheid te verhoog, sal ek prestasie-ooreenkomste met alle ministers onderteken . . . Hierdie ooreenkomste . . . sal openbaar gemaak word sodat die mense van Suid-Afrika diegene wat hulle in die amp verkies het, tot verantwoording kan roep. Ons sien die prestasie-ooreenkomste as die hoeksteen van 'n nuwe kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid."

Maar hierdie "hoeksteen van nuwe kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid" het nou verbrokkel, want die prestasie-ooreenkomste wat op die regering se webtuiste verskyn, is verouderd.

Hierdie leemte moet dringend reggestel word én ministers se uiteindelike prestasie-beoordelings behoort ook openbaar gemaak te word.

Die probleem is dat staatsvermoë aan 'n breë front krimp in kritieke areas en belastingbetalers kry nie waarde vir hul belastingrande nie. Dit verg groter verantwoordbaarheid oor ministers se groot salarisse, wat immers reeds openbare kennis is. Maak die prestasie-ooreenkomste dan weer openbaar, asook die president se beoordeling van ministers se prestasies.

In enige hoogs doeltreffende organisasie word sukses gevier en die mislukkings sonder omhaal agtergelaat. Nie een van die twee kan in die geheim geskied nie. Solank dit die geval is, sal die regering niks meer as 'n swakkerige middelmatigheid nastreef nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA