Kommentaar: Ministers se KPA’s moet wel openbaar word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die presidensie se verduidelikings waarom hy nie sy prestasie-ooreenkomste met ministers openbaar gaan maak nie, is onoortuigend.

Ramaphosa het in sy 2020-staatsrede met groot fanfare aangekondig: "Om die vermoë van die staat te versterk en aanspreeklikheid te verhoog, sal ek prestasie-ooreenkomste met alle ministers onderteken . . . Hierdie ooreenkomste . . . sal openbaar gemaak word sodat die mense van Suid-Afrika diegene wat hulle in die amp verkies het, tot verantwoording kan roep. Ons sien die prestasie-ooreenkomste as die hoeksteen van 'n nuwe kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid."

Die presidensie se verduideliking waarom die ooreenkomste geheim bly - strydig met Ramaphosa se belofte - is dat daar reeds parlementêre prosesse in plek is om die ministers verantwoordbaar te hou. Feit is egter dat dieselfde parlementêre prosesse in 2020 ook in plek was toe Ramaphosa groot gewag gemaak het van sy "nuwe kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid" waarmee hy gesê het die regstreekse verwagtinge wat die presidensie aan ministers stel, moet openbare kennis wees.

Wat die vraag opper waarom die "hoeksteen van 'n nuwe kultuur van aanspreeklikheid" dan nou verbrokkel het. En: Waarom was die openbaar­making van prestasie-ooreenkomste in 2020 noodsaaklik, maar nie meer in 2025 nie?

Nóg 'n rede waarom "parlementêre prosesse" nie genoeg is nie, is ministers se gewoonte om parlementêre vrae gewoon te ignoreer of om nie op te daag vir portefeuljekomitee-vergaderings nie.

Die presidensie sal moet herbesin en Ramaphosa se belofte van vroeër nakom deur openbaarmaking van die prestasie-ooreenkomste. Die eindelike prestasie-beoordelings behoort na regte óók openbaar gemaak te word synde ministers se salarisse uit belastingbetalers se sakke kom.

Die probleem is dat staatsvermoë aan 'n breë front krimp in kritieke areas en belastingbetalers kry nie waarde vir hul belastingrande nie. Dit verg groter verantwoordbaarheid oor ministers se groot salarisse, wat immers reeds openbare kennis is.

In enige hoogs doeltreffende organisasie word sukses gevier en die mislukkings sonder omhaal agtergelaat. Nie een van die twee kan in die geheim geskied nie. Nogmaals: Solank dit die geval is, sal die regering niks meer as 'n swakkerige middelmatigheid nastreef.

SPELETJIES VANDAG

CTA