Kommentaar: Mkhize stel ’n voorbeeld, maar ANC-kaders bly

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In 'n artikel (DB 16.08) skryf dr. Zweli Mkhize, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering, hoe 'n toesigbesoek bydra tot beter munisipale dienslewering.

Op twee vlakke is die artikel bemoedigend: Eerstens die erkenning dat munisipaliteite plekke van wanfunksionering en wanhoop geword het. Tweedens is dit 'n goeie voorbeeld vir ander van hoe die parlement sy toesigfunksie behoort op te neem.

Tog skiet die artikel te kort omdat Mkhize versuim om twee erkennings te maak wat vereistes is vir die standhoudende regruk van wanfunksionele munisipaliteite: Die eerste is dat ANC-munisipaliteite oorweldigend die grootste probleem is. Die tweede dat ANC-kaderontplooiing aan die wortel lê van die meeste hindernisse vir dienslewering.

Hy skryf: "Te veel personeellede, aanstellings vir mense met politieke bande, ouditkomitees wat nie werk nie en 'n gebrek aan gevolgebestuur het die publiek se vertroue en institusionele stabiliteit laat kwyn … Dit is 'n soort selftoegediende besering."

Daar kan begrip wees vir die feit dat Mkhize dalk poog om in sy formulering 'n balans te probeer bewandel as komiteevoorsitter (wat neutraal behoort te staan teenoor partye) en sy invloedryke ANC-rol. Maar in laasgenoemde hoedanigheid het hy wel 'n diep binnekennis oor hoe verweef kaderontplooiing met die ANC se DNS is. Soveel só dat die party bereid is om dit in die hof te verdedig.

"Die aanstelling van mense met politieke bande" waarna Mkhize verwys, is niks anders nie as ANC-kaderonplooiing. Dié koerant het al telkens uitgewys dat dit ANC-munisipaliteite die intreevlak vir selfverryking gemaak het, eerder as 'n sorgsame eerste regeringsraakvlak. Dit legitimeer steeds die aanstel van onbevoegde amptenare. In die proses word munisipaliteite boonop slagvelde waar ANC-faksies mekaar takel, en ampte gevul en verlaat word na gelang van die faksie wat die mag het.

Die langtermyn- politieke oplossing is dus - naas Mkhize se goeie planne - 'n einde aan kaderontplooiing. Pres. Cyril Ramaphosa het lankal opdrag gegee dat politieke aanstellings nie gedoen mag word in poste waar jy tegnokrate nodig het nie. Tog gebeur dit steeds omdat sy gesag ondergrawe word.

Te min gebeur te stadig. Dus lê die oplossing in finale instansie by die stembus.

SPELETJIES VANDAG

CTA