Sonder 'n goed funksionerende onderwysstelsel kan Suid-Afrika nie die soort land word wat die ANC nou al dekades aan huidige en toekomstige geslagte belowe nie en sistemiese probleme bly hierdie hoë ideale kortwiek.
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) waarsku dat die getal vakatures in die onderwysstelsel besig is om die hele stelsel te destabiliseer. Dit lei onder meer daartoe dat die getal leerlinge in klasse toeneem en minder aandag aan individuele leerlinge gegee kan word.
Tans is 31 818 poste vir onderwysers en skoolhoofde vakant.
Hierdie syfer, gelees saam met die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se indringende "Onderwys in syfers"-verslag van einde verlede jaar laat die gevaarligte oor die stand van skole helder flikker. In dié verslag word data wat strek van 2009 tot 2023 gebruik om aan te dui hoe verskeie probleme onopgelos bly om uiteindelik enorme swere te word. Boonop toon studies dat sowat 80% van die land se gr. 4-leerlinge so te sê funksioneel ongeletterd en ongesyferd is.
Dit illustreer die omvang van die krisis.
Wat betref die ongevulde poste is die hopelose stand van baie provinsiale onderwysdepartemente in die kollig. Die verantwoordelikheid om te verseker dat openbare skole voldoende beman word vir die 2025- akademiese jaar lê immers by elke provinsiale onderwysdepartement. Hulle bestuur die werwing van onderwysers op grond van beskikbare vakatures, finansiering en skoolbehoeftes.
Die ondeurdagtheid van die Bela-wet is teen hierdie agtergrond des te meer skreiend, want in effek is magte weggeneem van beheerliggame, wat in baie gevalle die skans is teen wanbestuur, en gegee aan provinsiale onderwysdepartemente wat juis 'n duidelike bron van wanbestuur is.
Dis tyd vir 'n deeglike ondersoek na wanaanwending van hulpbronne in die onderwysstelsel, wat jaarliks die grootste sny van die begrotingskoek kry. Vanjaar het die regering R332 miljard vir basiese onderwys begroot - weer sy enkele grootste uitgawe. Dis proporsioneel beduidend meer as wat lande soos Amerika, Brittanje en Duitsland aan onderwys bestee. Die werklikheid is egter dat ons eenvoudig nie waarde vir geld op dié enorme belegging kry nie.


















