Hans Kramers (1894-1952) was ’n gerekende Nederlandse fisikus. Een aand tydens ’n openbare musiekkonsert het hy opgestaan en haastig uitgestap. Ná die tyd het hy gesê hy was in sy kop besig om die energievlakke van ’n suurstofatoom te bereken en die musiek het daarmee ingemeng.
Sy toewyding aan sy navorsing was legendaries. Eenkeer het Kramers selfs opgemerk: “A man of science must sacrifice his individuality for his discipline.”
Kramers se woorde herinner my aan Ou Testamentiese profete soos Elia en Elisa. Hul roeping het hul lewe oorgeneem. Hulle het nie iets soos ’n privaat lewe en ’n openbare lewe geken nie.
Ek dink dis een van die redes dat hulle gereeld as “man van God” aangespreek is. Paulus se roeping het ook sy ganse lewe oorgeneem. Hy skryf juis in Filippense 1:21: “Vir my is die lewe Christus! Hy is die somtotaal van my hele bestaan.”
Mag ons ook ons eie roeping in die lewe ken en verstaan. Nog meer, mag dit ons lewensdoel wees om vir God te leef. Mag ons selfs ons eie gerief en enige selfsugtige vorm van individualiteit daarvoor op die altaar plaas. Dan sal ons ook as mense van God uitstaan.













