Kinders landwyd het gister aangemeld vir die begin van 'n nuwe skooljaar. Vir duisende gr. 1-leerlinge was dit boonop die eerste dag van hul skoolloopbaan.
Dit het nie sonder die gewone ontwrigting gebeur nie. Benewens die nuwe omgewing en roetine wat deur nuwelinge bemeester moes word, was daar ook talle voorvalle van kinders wat nié op die eerste dag by 'n skool geplaas is nie.
Die verantwoordelikheid wat daar in dié opsig op ouers rus, kan natuurlik ook nie onderskat word nie.
Een van die klousules in die Wysigingswet op die Wette op Basiese Onderwys (Bela) wat deur kenners uitgewys word as positief, is die feit dat ouers strafregtelik vervolg kan word indien hulle hul kinders doelbewus verhinder om skool toe te gaan. Dit is prysenswaardig, want alle kinders het die reg op onderwys.
Wanneer provinsiale departemente van onderwys se stelsels egter 'n hindernis word in die plasing van kinders by skole, behoort daar ernstige vrae gevra te word. Die Gautengse departement van onderwys het byvoorbeeld in 2016 begin met elektroniese aansoeke, ten einde die proses meer "tegnologie-vriendelik" te maak en lang toue van aansoekers uit te skakel. Die stelsel het aanvanklik tot erge frustrasie gelei, maar is oor die jare verfyn. Gister het dit egter weer geblyk dat duisende kinders wie se ouers die stelsel gebruik het nié deur die departement by skole geplaas is nie.
Die hindernisse om kinders in skole geplaas te kry behoort uit die weg geruim te word. Die Bela-klousule oor verpligte onderwys word 'n bespotting wanneer 'n ouer sy kind by 'n skool wil inskryf, maar dit weens burokratiese rompslomp nie kan regkry nie.
Die verantwoordelikheid wat daar in dié opsig op ouers rus, kan natuurlik ook nie onderskat word nie, met talle ouers wat bloot nalaat om vooraf die nodige reëlings te tref.
Dit is 'n broodnodige herinnering hier aan die begin van die skooljaar dat ouers nie die primêre opvoeding van hul kinders kan uitkontrakteer nie. Dis 'n kosbare vennootskap tussen ouers en onderwysers - met die beste belang van die kind as rigsnoer.
In dié gees word leerlinge, ouers en onderwysers voorspoed toegewens met die jaar wat voorlê. Mag omstandighede in skoolgemeenskappe van so 'n aard wees dat kinders - ons toekoms - kan floreer.

















