Dit is betreurenswaardig dat die sing van "Kill the Boer" nou tot die punt gekom het waar dit die jongste stok is waarmee Amerika Suid-Afrika bykom. Marco Rubio, Amerika se minister van buitelandse sake, het uitgevaar teen die sing van "Kill the Boer" as aanhitsing tot geweld nadat Julius Malema, EFF-leier, en sy ondersteuners dit op Menseregtedag gesing het.
"Kill the Boer" is in die verlede deur Suid-Afrikaanse howe, waaronder die appèlhof, nie as haatspraak beskou nie. Desondanks het AfriForum pres. Cyril Ramaphosa skriftelik versoek om die sing van "Kill the Boer" te veroordeel.
Dit is moeilik om te begryp waarom Ramaphosa (en ander ANC-presidente voor hom) nie net die sing van die lied kan veroordeel nie. Die vraag of dit regstreeks geweld aanhits (soos wat dit voor die hof gekom het as vereiste vir haatspraak), behoort vir 'n staatsman nie ter sake te wees nie. 'n Staatsman sal insien dat dit gewoon verdelend en onnodig polariserend is in 'n land met 'n hartseergeskiedenis van rasverdeeldheid. Só 'n staatsman sou die sing van die lied op 'n duidelike wyse kon ontmoedig, sonder om enigsins inbreuk te maak op enigiemand se vryheid van spraak.
Die ANC skerm egter dat Malema die leier van die EFF is en dat Ramaphosa, as ANC-leier, nie pa behoort te staan vir Malema se optrede nie. Dis 'n problematiese redenasie om twee redes: Rasverhoudinge en die welsyn daarvan is onteenseglik Ramaphosa se grondwetlike verantwoordelikheid, ongeag Malema en Ramaphosa se onderskeie party-affiliasies; en Malema (en ander) se sing van die lied is deurlopend deur die ANC gekondoneer omdat dit " 'n bevrydingslied" is. Niemand glo die ANC sal stop om die geskiedenis te vereer nie. Dié redenasie is reeds aangelê in die tyd wat Malema nog ANC-jeugligaleier was, maar nou het dié probleem grootgeword en staan aan die stuur van sy eie populistiese party.
Feit is gewoon dié stilswye en kondonering normaliseer Malema en ander se optrede sodat mense hierdie gedrag van hom begin verwag en geweldtaal iets word wat ons ignoreer of oor lag. En só word die teelaarde vir geweld geskep, van watter kant ook. Is dit die moeite werd om dié risiko te loop ter wille van 'n bietjie historiese sentiment?

















