Die wanbestuur by die sukkelende Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) word nie met genoeg erns gehanteer nie.
Die verkwisting, wanadministrasie en korrupsie by die NSFAS is deel van die nalatenskap van 13 hopelose jare onder dr. Blade Nzimande as minister van hoër onderwys en opleiding. Hy is vervang deur dr. Nobuhle Nkabane, wat haar vroeër daartoe verbind het om die gemorsspul skoon te maak. Sy het gesê: "Ons doen proaktiewe stappe om die probleme wat die NSFAS in die gesig staar, te verlig. Dis ons morele verantwoordelikheid om dié uitdagings op te los."
Maar hiervan is daar nog te min tasbare tekens.
Verskeie voorbeelde van wanbesteding het aan die lig gekom, soos die huur van die peperduur kantoor in die imposante The Halyard-gebou in die hawegebied in Kaapstad. Dit het 'n driedubbele kostestyging vir kantoorruimte (R2,2 miljoen per maand), 'n huurkontrak wat oënskynlik nie deur die regmatige eienaar onderteken is nie en 'n bykomende R23 miljoen vir die inrig van dié werkplek uit die staatskas behels. Die astronomiese koste ten spyt, is die kantore nie na behore benut nie.
Die kontrak sou ongedaan gemaak word en NSFAS sou die ruimte verlaat het, maar nou blyk dit NSFAS gaan vanjaar nóg R4,1 miljoen vir die huur van 140 parkeerplekke by sy kantoor in die Strandgebied van Kaapstad betaal. Wanneer die vyfjaarkontrak einde Januarie 2027 verval, sal NSFAS R18,7 miljoen aan parkering bestee het.
Inmiddels kom studente in opstand omdat hulle moet klaarkom met 'n maksimum toelaag van R45 000 vir 'n jaar se verblyf. Groot ontevredenheid heers ook oor die NSFAS se mislukte uitbetalings van toelaes aan studente, 'n ontluikende krisis met studenteverblyf en twyfelagtige tenders.
Andile Nongogo, afgedankte uitvoerende NSFAS-hoof, wat die The Halyard-huurkontrak onderteken het, is voorheen in die pad gesteek nadat bevind is hy het hom by die toekenning van tenders ingemeng.
Nou gaan die verkwisting net voort. Dis tyd vir 'n deeglike ondersoek deur die minister, en as daar enige prima facie-bewyse van onregmatigheid is, móét strafregtelike stappe volg. Daarsonder kan behoeftige studente reken op 'n kykweer van die NSFAS se skandelike verlede.




















