BRIEF | Dood- en lyfstraf moet terugkom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Adamus P. Stemmet, Bellville

Luister ’n mens deesdae na die nuus of slaan jy jou koerant oop, hoef jy nie te wag om te hoor of ver te lees hoeveel mense die vorige dag vermoor is nie. Ons het al gewoond geraak aan ten minste sewe opskrifte met daardie strekking. Een berig het darem ’n bietjie van ’n ander opskrif gehad – iets soos dat van 1 tot 17 Januarie 2026 is 195 mense in Kaapstad vermoor. Nie eers in ’n oorlog gaan dit so erg nie.

Elders word berig dat iemand wat lewenslank tronk toe gestuur is, ná enkele jare dalk op parool vrygelaat gaan word. Iemand wat vir die verkragting van ’n vierjarige en selfs ook moord ’n lang vonnis opgelê is, gedra hom so goed in die gevangenis (hoe kan hy anders?) dat hy op parool vrygelaat word, al weet mense voor hul siel dat ’n seksoortreder nooit gerehabiliteer kan word nie en sy misdaad sal herhaal.

Lewens het te goedkoop geword en iets drasties sal daaraan gedoen moet word. Die mense wat my verlede jaar gekritiseer het toe ek die herinstelling van die doodstraf voorgestel het, het geen alternatief daarvoor voorgestel nie. Ek sal graag nou hul voorstelle wil sien. Net drastiese stappe kan Suid-Afrika nog van die misdaadvlaag red.

Eerstens, bring die doodstraf terug vir moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, en kaping wat met geweld gepaard gaan. Tweedens, aanvaar min. Pieter Groenewald se voorstelle oor lyfstraf vir volwassenes oor die pleeg van sekere misdade. Voorheen, toe lyfstraf vir die ontvangs van gesteelde goedere opgelê is, het ons nooit van kabeldiefstal gehoor nie. En nou?

Om misdadigers met handskoene aan te hanteer help nie. Moet ’n veroordeelde misdadiger nie outomaties van sy regte as burger van sy land en ook menseregte gestroop word nie? Die regering het ’n keuse: Tree drastieser teen misdadigers op, of die publiek tree self op.

Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA