Pierre Joubert, Brackenfell, skryf:
Kunsmatige intelligensie (KI), soos geskep deur natuurlike intelligensie (NI), word tans oral ingespan sodat NI-gebruikers minder hoef te dink.
In my jeug het ek wetenskapsfiksie verslind. Baie van die verhale het oor hierdie onderwerp gehandel. Min of meer soos volg: Geskep deur NI, het KI sterk gegroei en het NI al hoe luier geword. Robotte, wat reeds ingespan is om die mens se werk te doen, is voorsien met KI. Met verloop van tyd het die robotte al hoe intelligenter geword en aan die mens begin opdragte gee, wie se intelligensie dan begin taan het. Dit het nie lank geduur vir KI om NI te oorheers en die wêreld se globale leierskap oor te neem nie.
Fiksie word dikwels die werklikheid. Daar word reeds robotte vervaardig en met KI toegerus om werk wat deur NI gedoen is, oor te neem. Ek het onlangs gesien hoe hulle resies hardloop! Hulle gaan ál slimmer word en NI uitdaag.
Die koms van KI is die begin van die einde van NI. En dus ook die einde van die “intelligente” mensdom.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
















