Johan Pretorius, Ladismith, skryf:
Ná meer as 15 maande het die hoofregter laat blyk dat ’n uitspraak binne ’n maand verwag kan word in die EFF en ATM se aansoek dat die aanbevelings in die onafhanklike verslag oor Phala Phala toegepas word. Luidens dié verslag is daar ’n prima facie-saak teen pres. Cyril Ramaphosa oor die geld wat uit sy huis op Phala Phala gesteel is.
Die Nasionale Vergadering het teen die inwerkingstelling van die verslag gestem.
Die feit dat die konstitusionele hof (met opset?) voete gesleep het om ’n uitspraak te lewer is op sigself reeds hoogs verdag. Die rede vir die klaarblyklike vertragingstaktiek is op waarskynlikhede dat indien die uitspraak ten gunste van die EFF is, dit amper noodwendig die einde van Ramaphosa se politieke loopbaan sal beteken.
Hoe ver die konstitusionele hof moontlik agteroor mag buig en dalk die reg mag verdraai ter wille van die beskerming van die president, sal veel sê van of die Suid-Afrikaanse regstelsel op die hoogste vlak ook gekaap is.
Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.














