Menings

Karin Brynard skryf: Om te begin...

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
s
s

Illustrasies Derika Volpi en Paula Dubois

As die eerste botseltjies begin sigbaar raak, waai daar so 'n effense mismoedigheidjie oor my binnestes. So 'n ou sielesuggie. My kop is nog nie reg hiervoor nie. My lyf allermins.Ek wil nog snoes wees. In my lekker wollies rondloop, vuurmaak, soggens wit wolkies asem blaas wanneer ek met die hond gaan stap.

Ek hou van die skerp kontraste van winter. Van bome wat slaap en berge onder wit komberse, kinderwange wat rooi gloei in die ysige wind, en dan weer die stil goud van lemoene in die diepgroen boorde.

Hier in die Kaap is die winters veral mooi. Want dis nat en mals. Druppend, stippels water aan die bergvarinkies in Bainskloof wat skitter sodra dit 'n strepie son vang, wit linte water wat oor die rotse van die Hexvallei se berge val, reënboë maak. So anders as die Hoëveldse vaal monotone - 'n anderste bekoring, ja, maar een wat om lente en verlossing roep.

In die Boland roep dit Van Wyk Louw op, gee jou 'n digterlike blik op die naakte kartelings van akkerbome. Ek hou van die stilte, mis wat geheimsinnig in die boomkruine teen die berghellings hang, en die reuk van molm en mos onder jou voete. Dis 'n tyd vir inkeer en bepeinsing, die nate van jou lewe aftas, lap wat daar te lappe is en jouself weer stuk-stuk bymekaarvat.

Ek het grootgeword in die Noord-Kaap, op die randjie van die Kalahari. Vir 'n kind het die winter 'n ander bekoring, glo ek. Van spore maak op witgerypte grasperke, soek vir die langste belle ys aan die struike in die tuin.

Die buitekrane het oornag baard gekry en op die visdam lê daar plate ys waardeur jy die vae, roerlose gedaantes van die visse sien. Skool toe stap was deur 'n groot stuk oop veld. En soms was ek laat, want die driedoringbos staan vol wit stekeltjies ys en as ek lank genoeg wag sodat hy son kan vang, verander hy van gedaante. Sy dorre doringrigheid word 'n glinsterende kunswerk van kristal.

Ek sou verruk vertoef. Tot ek die skoolklok in die verte hoor en dan laat spaander.

Saans was daar lekker trooskos: oondgebakte wors met kapokaartappels of stywe mieliepap, skorsies met botter en 'n vleugie neutmuskaat. En melkkos agterna. In die woonkamer was daar 'n groot ou asbesverwarmer, ons ridder teen die minusgrade buite.

My ma sou sit en brei - sulke dik, lelike truie wat 'n mens met 'n swaar hart ontvang het - en ons kinders sou ons huiswerk doen. Ná kerk Sondae sou ons ons dik jasse uittrek en die son soek, die grootmense wat nog met 'n tikkie kerkse nabetragting hul koppies tee in stilte roer. Die hond by my ma se voete sou haar behaaglik op haar rug draai, pootjies in die lug haar pensie in die son laat bak. Daar was nartjies en appels wat my ma per trein uit die Kaap laat kom en stroperige appelpoedings van gebak het. Dalk verbeel ek my dit, maar familietyd was hegter, asof ons digter teen mekaar moes aanleun teen die koue.

Deesdae is die tulpeboom altyd die eerste wat die verbygaan van die winter aankondig. Vanuit my sitplek voor die kaggel hou ek dop hoe sy pers kandelare een vir een hul koppe uitsteek. Mooi soos hulle is, kan ek die effense huiwering in my gemoed nie mooi beteuel nie. Dalk het dit te doen met ouderdom, die steeksheid vir nóg 'n jaar wat in sy afloopfase ingaan, die horison wat onverbiddelik nader kom.

Of dalk is dit sommer net die mol in my wat hou van ondergronds wees, rondwroet in knusse holtes, in die donker dut.

Maar die lente kom, al keer ek hoe. Die natuur laat hom nie stuit nie. Jy voel dit eerste in die ritmes van jou eie lyf. Asof iemand iewers 'n deuntjie aangedraai het wat jou onwillekeurig wil laat dans.

Ek wil nog 'n bietjie lê, maar my litte jeuk vir op en uit, die bloed wil roer.En dit vat 'n tydjie tot my kop ook bykom, hom onwillig losmaak uit sy lui gedroomde skuiltes. Dan wil hy wegtrek met 'n ruk-en-rol, ek holderstebolder agterna. Teen die tyd dat die somerswaels opdaag en ek die piet-my-vrou in die hoë boomtoppe by die rivier hoor roep, is ek darem reg.

Maar ook net-net.

Die mol in my is steeds daar, hy draai vir eers net op sy ander sy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM