Menings

Karin skryf: Brommer en die agteros

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: Lynne Fraser
Illustrasie: Lynne Fraser

Dit was in die chaotiese doolhowe van 'n duisend-jaar-oue basaar in Marrakesj dat ek onlangs weer teruggedink het aan die dag dat ek 'n brommer heel ingesluk het.

Dit was nie soseer die roesemoes van die ou mark - met sy frenetiese mensemenigtes en amperse geweld van geur en kleur en klank en stank - wat my daaraan herinner het nie.

Dit was die gemeenskaplike uitdrukking van ingehoue irritasie op die gesigte van my flink medereisigers. Veral as hulle na my gekyk het.

Ek was naamlik die stadigste lid van 'n piepklein groepie amateurfotograwe op 'n slypskool vir straat- en landskapfotografie in dié antieke land van sand en spys en galmende minarette.

Ons "meneer" is 'n wêreldklas-fotograaf met 'n borrelende gees en bitter lang bene. En wat sy storie ken in die moeras van donker, kronkelende stegies in die reuse-medina (antieke stad) se soeks (ambagsmarkte) met hul meer as 3 000 winkeltjies en stalletjies en ambagskraampies, waar enigiets van 'n mat tot 'n mosbol gemaak en verkwansel word.

Ons is op 'n taai tydrooster. Op 'n sekere tyd van die dag moet jy hiér of dáár wees vir die beste lig of ligging.

Dis bybly en paraat-wees met die regte lens of filter of instelling of 'n driepoot - of wat die situasie ook al vereis. Dít alles terwyl jy die nou straatjies en die stroom smouse en bedelaars en donkies en kruiers en brom

ponies en toeriste probeer navigeer.

Die grootste uitdaging is om nie te verdwaal nie, want die moment dat jy die groep verloor, is jy in jou maai. Wat ek met reëlmaat is, want ek kan net nie bybly nie.

Die Liewenheer het my geseën met lang, sterk bene. Maar daar het die segening opgehou.

Dis nie vinnige bene nie. En met die res van my is dit min of meer dieselfde - alles gebeur maar aan die stadige kant.

Van kleins af was ek altyd in die sop daaroor. Laaste aangetrek vir skool smoors. Laaste saans uit die badkamer. Aan die etenstafel het almal klaar hul kos weggesluk, dan soek ek nog my vurk.

Of ek moet skottelgoed was, maar raak oopmond, droomverlore aan die staar na al die kleure perlemoer wat in 'n enkel seepbel glinster. As ek weer sien, is dit 'n halfuur later en kry ek op my jis oor ek nie lankal klaar is nie.

Van kleins af hoor ek gereeld ek maak iedereen om my se "tande stomp", want ek is altyd op my "eie stasie, 'n apie op sy eie boomtak".

Soos juis dié dag met die brommer. Ek was in Sub A en my juffrou is besig met 'n storie, maar merk dat ek al weer dwaal, want ek sit oopmond by die venster en uitstaar.

Sy roep na my en almal kyk, maar ek hoor niks. Net toe vlieg daar 'n brommer by die oop venster in. En toe die juffrou weer roep, hárder hierdie keer, asem ek van skone skrik die brommer in.

My klasmaats se gelag was nie so erg nie. Dit was die uitdrukking op my geliefde juffrou se gesig wat seergemaak het - 'n ligte, ingehoue irritasie.

Nes dié van my fotokamerade as ek, ná 'n verdwalery in die chaos van Marrakesj, uiteindelik weer uitkom waar hulle op my staat wag. Ek skaam my dood en bedel nederige vergiffenisse, my senuweeste rou.

Normaal gesproke pla dié ou defek my nie meer so veel nie. Want ek het geleer dit lê aan my behoefte om te wil sin maak van die wêreld. Ek wil langer stilstaan en 'n ding betrag, nadink, en sodoende dieper tas, verby die oppervlak beur na die onsigbare, na waar daar betekenis lê.

Vinnig-bolangs doen dit nie vir my nie.

Maar dis juis die truuk van straatfotografie, sê my meneer, die kuns om vinnig-vinnig diep te kyk.

Terug by die huis kom ek eers goed tot rus voor ek die moed het om my Marokko-fotolêer oop te maak. Gelukkig kan ek darem lag vir al die blapse - puur senuwees. Foto's van my skoene of my knieë. Of die agterkop van my meneer pleks van 'n sterverligte blou moskee.

Maar tussendeur is daar tóg blyke van sukses: die beeld van 'n vernielde Berber-bedelaar in 'n duister steeg wat 'n babakatjie liefderik soen.

Stringe duiwe in die skemer rosigheid van die vroegoggendlig, wat in sirkels om 'n pittoreske minaret wals tot dit lyk of hulle dit hemelwaarts lig. Alles aards wat swig, en blosend kantel voor die skoonheid.

O, blye dag. Ek het Marokko tog wél raakgekyk - die betowering te midde van die chaos.

Ou agteros het toe die kraal gehaal - brommer in die mond en al.

Illustrasie: Paula Dubois
Illustrasie: Paula Dubois

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM