Reis

RUBRIEK: Tupperware se amperse einde roep nostalgie op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek was verstom toe ek destyds berigte lees dat die Tupperware-ryk in Suid-Afrika in Desember 2024 tot 'n einde gekom het. Bronne maak melding van groot finansiële probleme en 'n skuldlas wat onbeheerbaar geraak het. (TuppAfrica, 'n nuwe lisensiehouer, het Tupperware darem middel-2025 teruggebring.)

Earl Tupper het sy sakeryk in die jare veertig tot stand gebring en die produk is in 1964 in Suid-Afrika bekend gestel – tans is daar nog sowat 100 000 konsultante bedrywig.

Ek het in my laerskooldae al met Tupperware te doene gekry. Daar was selfs 'n kompartement in my rugsak waarin die kosblikkie baie knus gepas het.

Daardie vierkantige Tupperbakkies was ideaal om toebroodjies tot minstens eerste pouse vars te hou.

Die groter langwerpiges is in die gangkas gebêre en opgediep 'n paar dae voor ons vir ons jaarlikse vakansie na die Scottburgh-woonwapark vertrek het.

My ma het dit volgepak met gekookte eiers, weense worsies, vleispasteitjies en hoenderstukke wat ons iewers by 'n tafeltjie langs die pad verorber het. Dit alles vir vier groeiende seuns, almal met 'n vinnige metabolisme.

Ons het meesal op Harrismith, Ladysmith of Estcourt se munisipale park oornag, en dan het Pa boerewors uit die Tupperbak opgediep wat ons gebraai het.

Ma het aartappelslaai in 'n bonkige Tupper saamgepiekel, maar die beetslaai was in 'n glasfles omdat dit die Tupperware gevlek het.

Ek het al verskeie menings raakgelees wat daarop dui dat daar met verloop van tyd verbruikersweerstand teen plastiekbesoedeling opgebou het wat later 'n negatiwiteit teenoor plastiekhouers geword het, insluitende produkte soos dié van Tupperware.

Kenners meen dat jonger mense eerder glashouers gebruik om voedsel vars te hou.

Ek kon egter geen betroubare wetenskaplike bronne opspoor wat enigsins na weerstand teen Tupperware verwys nie. Ek dink goedkoper plastiekhouers wat in China vervaardig word, het die verkope van Tupperware geknou.

Die partytjie-konsep wat oor dekades Tupperware se verkope gestimuleer het, het in alle waarskynlikheid oudmodies geraak.

Plastiekbesoedeling is wel reg oor die wêreld 'n groot kopseer. Amerikaanse deskundiges beweer dat daar 46 000 stukkies plastiek in elke vierkante myl aangetref word – wat saam 'n verbysterende 100 000 t weeg.

Ornitoloë, mariene bioloë en omgewingskenners raam dat meer as een miljoen seevoëls en honderdduisende seediere jaarliks weens plastiekbesoedeling sterf.

Die sogenaamde Great Pacific Garbage Patch wat iewers tussen Hawaii en Kalifornië ronddryf, beslaan 'n oppervlakte wat groter is as Texas... en Suid-Afrika is skaars twee keer so groot soos Texas.

Plastiekverpakking en -sakkies is die groot sondaars wat besoedeling betref. Ek het gaan soek, maar kon geen inligting opspoor wat enigsins daarop dui dat Tupperware-deksels in groot maat in die Great Pacific Garbage Patch aangetref word nie.

Ek kon wel 'n paar skrywes opspoor wat Tupperware se uitvinder uitkryt omdat deksels nie op 'n manier aan bakke "vaskleef" nie.

In dieselfde asem looi hulle die mense van Bic-penne en Heinz omdat doppies en proppe maklik wegraak.

Dankie tog dat toiletdeksels só ontwerp is dat dit nie sommer kan wegraak nie. Dink net hoe woonwaparke sou moes bontstaan om knaend deksels te vervang.