My goeie hond was onlangs toe ons by die rivier agter die huis gaan stap, net-net te laat om 'n moord te keer.
Sy't 'n verdagte beweging deur die lang wintergras gewaar en dadelik daarop afgestorm. Maar, helaas, te laat.
Die eekhoring wat daar op die sagte oewersand gelê het, was reeds dood. En die moordenaar, 'n reuse-huiskat, het in 'n boom daarnaas gesit. Die hond het teen die boom opgespring en gefrustreerd geblaf, maar die kat het ongestoord en kil-hovaardig sy pote sit en lek.
Terug by die eekhoring het die hond vir oulaas 'n bietjie lewe uit die dooie diertjie probeer wek deur dit met die neus te woel - nié uit jammerte nie, hoor. In haar drome is sy Canis Artemis, hondegodin van die jag, verdelger van die knaaggespuis.
Dat dit die veragtelike kat was wat die vangs gemaak het, moes vir haar pynlik gewees het om te verwerk.
Maar sy's 'n nugter dier van edel inbors wat geen tyd verspil aan 'n getob nie. Goed gebeur - niks aan te doen - dan gaan jy aan, doen wat jy moet doen. Met dié houding het sy haar snuffeltog hervat, die smadelike nederlaag reeds deeglik in haar vergeetboek weggewerk.
Toe ons op die terugweg 'n tydjie later weer langs die moordtoneel verbykom, is daar 'n aantal kinders by die ontslapene, druk doenig met hierdie onverhoedse konfrontasie met die dood.
Een outjie, 'n haasbekkie wat sukkel met sy esse en sy elle, stel voor "onth gooi hom innie liviel", waarop 'n blondekoppie met 'n haarlint heftig nee sê, want haar pa sê die rivier loop see toe waar daar haaie woon wat hom gaan vreet.
Dié skrikbeeld stuur 'n kommunale rilling deur die groep en een van die kleintjies se ken begin gevaarlik bewe.
"Maar … maar hoekom moet hy dood wees?" vra sy met 'n wankelende stemmetjie.
Groot eksistensiële raaisel, dink ek, waar ek en die hond eenkant, uit hul gesigsveld, saam kyk hoe hulle dié vraagstuk gaan beredder.
"Hyth dood," sê die haasbek, "want hy ith nou klaal. Hy't … hy't opgehou, vethtaan?"
"Nee!" roep die kleintjie, "hy ís nie klaar nie. Sy mamma en sy pappa sal nie ja sê nie!"
Nou staan haar ogies bol van die dreigende trane. Een van die ander kleintjies probeer haar troos, 'n ouer sussie, so te sien.
"Moenie huil nie, Marí," sê sy, "hy's nou in die hemel."
Maar klein Marí ruk weg.
"Nee," roep sy ontstoke. "Hy móénie in die hemel wéés nie. Sy mamma en sy maatjies gaan hom soek! Hy moet nog speel."
"Hy kan nie thpeel nie, hy ith nou klaal gethpeel."
"Is nie!"
"Ith!"
Een van die seuns raak ineens prakties en skep 'n hand vol sand en gooi dit oor die eekhoring. Marí probeer hom vurig wegstamp, maar hy koes en met dié skep hy die eekhoring en wip hom in die rivier.
"Kyk, kyk, kyk," roep hy, "die eekhoring swem!"
Die rusie stop ineens en almal kyk in stilte hoe die lui-loom kabbelgang van die vlak rivier die eekhoring opvang en stroomaf trek. Die sagte maling van die water tussen die groot spierwit klippe deur gee inderdaad 'n skyn van lewe aan die dobberende dooie dier.
En dan is alles verby.
En die tyd, wat vir 'n oomblik weggedeins het voor die koue asem van die ewigheid, begin weer tik. Die middagson trek lang skaduwees en die hond, gedagtig aan haar kosbak, kies huiswaarts koers.
En dis nie lank nie, of ek hoor weer hoe 'n kinderlaggie opborrel in die goue middaglig. En die wêreld kantel op sy fondamente terug.
Laataand lê die hond voor die kaggel in 'n diepe slaap en aan haar onwillekeurige gewoel en binnensmondse slaapgeblaf, sien ek sy's aan't jag. En ek wonder oor die eekhoring se lot, of hy al by die see is. Of iewers eerloos teen 'n heining aangespoel het.
Vir die hond, weet ek, is hy op lewende galop daar in haar jagtersdroom. En vir Marí sit hy voorlopig gesellig by sy familie tuis. Vir die res is hy dalk gou vergeet.
Maar ek onthou.
Hy't "opgehou".
Al het niemand ja gesê nie - buiten die kat, wat iewers in die donker rustig sy voete sit en lek.


















