Ná vyf dekades van oopsprei oor die eetkamertafel of agteroorsit in jou gemakstoel, groet Beeld vandag sy lesers. En daarmee saam ook sy laaste redakteur. Johanna van Eeden het met Barnard Beukman gesels.

Toe Barnard Beukman (61) op 1 Desember 2015 Beeld se redakteurskap opgeneem het, was dit maar stil by die redaksie.
" . . . daardie soort stilte wat kenmerkend is aan die oomblikke ná 'n hewige storm", skryf Retha Fick in 'n blaadjie wat by Beukman se onlangse afskeid aan hom oorhandig is.
Fick, na wie Beukman verwys as "vir alle tegniese doeleindes Beeld se mederedakteur van die afgelope jare", skryf hoe Beukman "Beeld weer 'n koerant vir sy lesers gemaak het" en hoe dié koerant se twaalfde redakteur "die vaarwater vir die eerste keer in 'n lang tyd" weer kalm gemaak het.
Dis nou nege jaar later en die einde van 'n jaar wat allesbehalwe "kalm" was. Die afgelope 18 maande het Beukman gehelp om sy ma, Zagryda, uit die Kaap in Pretoria te hervestig; hy en sy vrou, Ulricka (58), het hul huis opgepak, afgeskaal en verhuis; Eduan (24) hul seun, het ná sy studie sy eerste werk aangepak; Lidia (28), hul dogter, is getroud en het saam met haar man, Garth, Ierland toe geëmigreer; hy het begin voorberei op sy aftrede . . . en toe kom die nuus dat Beeld nie meer as 'n gedrukte koerant gaan verskyn nie.
Beukman gooi vinnig wal teen die feitestel. Daar is ander kollegas wat in hierdie stormagtige jaar groter uitdagings moes deurstaan.
Maar hoe hét hy deur hierdie jaar gekom?
" 'n Mens moet jou dit nie verbeel dat jy die hoofrol in jou eie film speel nie. Jy is deel van 'n groter realiteit."
En as daardie realiteit beteken jy lees een oggend op Moneyweb die koerant waarvan jy die redakteur is word gesluit? Wat motiveer jou om aan te hou en nie dadelik jou goed te vat en te loop nie?
Jy kry jou motivering, verduidelik hy, "omdat jy glo dit waarmee jy besig is, is die moeite werd. En uit die energie wat jy uit al die mense om jou put wat dieselfde glo."
"Wat hier gebeur het, maak dit vir my en ander redaksielede moontlik om nou aan te beweeg weens die ongelooflike steun van lesers. Hulle het gewys die werk wat ons doen het, hét saak gemaak en dat Beeld 'n rol in die samelewing gespeel het . . ."
Die begin . . . en die einde
Beukman is in Sacramento, Kalifornië, gebore in 'n tyd toe sy pa, Eduard, daar gestudeer het vir sy doktorsgraad in plantkunde.
En ja, hy het dus 'n Amerikaanse paspoort "solank Donald Trump dit nie gaan wegvat nie". Maar hy beskou homself deur en deur as 'n Suid-Afrikaner "en die VSA bloot as 'n reisbestemming".
Terwyl Melinda Stuurman die foto's neem, neem hy 'n nostalgiese toer deur vorige eksemplare van die koerant wat in die biblioteek in Randburg bewaar word.

Met elke omblaai flits die geskiedenis verby. Op 6 Februarie 1990 het Beeld 60c gekos. "Nog tolhek-skokke" lui 'n opskrif - dekades voor e-tol bedink is - en 'n Mazda 6 word geadverteer vir R30 000.
Hy staan 'n oomblik stil by die bladsy met sosiale foto's van onder andere Dawie de Villiers, Andries Treurnicht en Denis Worrall. Dis almal mense met wie hy in sy loopbaan as joernalis te doen gehad het, veral in die tyd toe hy vir Die Burger uit die parlement verslag gedoen het.
Sy pad na die joernalistiek het gespruit uit sy liefde vir skryf, Afrikaans en sy belangstelling in geskiedenis. Reeds as leerling van die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) het Die Burger begin om van sy briewe te publiseer.
Hy het sy twee jaar diensplig voltooi "in 'n stadium toe daar vir 'n Afrikaanse jong man baie opsies in die arbeidsmark was".
'n Advertensie om as verslaggewer by die destydse Oosterlig in Port Elizabeth te gaan werk, het sy oog gevang. Só begin 'n lang loopbaan in verskillende rolle in die media - binne en buite Media24.
En vandag is daar 'n einde.
Die lesers se koerant
Beukman het die laaste paar jaar self daagliks die lesers se briewe en SMS'e vir die volgende dag se koerant versorg.
Afrikaans is soos 'n rankplant wat in barste en skeure bly groei wat jy nie uitgeroei kan kry nie.
"Dit bring jou nader by die hartklop van die lesers en hoe hulle voel oor die samelewing en die produk. As ek sê joernaliste is krities . . . jy sit met hoogs kritiese lesers, wat laat weet wanneer stories, taalgebruik of die onvermydelike setfout hulle nie geval nie. Dit het onvermydelik gelei tot 'n band met die kern van jou lesers en dat jy 'n verhouding opbou."
In so 'n mate dat hy, toe hy verlede jaar en weer in Mei vanjaar instap by Beeld se lesersontbyt, "die meeste lesers daar geken het".
Op 25 Mei is daar jolig gekuier en koek gesny ter viering van hierdie koerant - "Projek T" genoem in sy beplanningsfase - se vyftigste jaar.
Net 21 dae later kom die aankondiging dat Beeld teen die einde van die jaar nie meer op papier gaan bestaan nie. In die maande daarna was die briewe- en SMS-mandjie gevul met lesers se woorde van skok, woede, ontkenning en rou.
Te midde van dieselfde gevoelens in die redaksie, was dit ook uit die lesers waaruit opnuut hoop en motivering geput is om voort te gaan om tot die laaste dag die beste moontlike koerant uit te gee . . .
"Daar is mense wat snap wat die rol van 'n joernalis in die samelewing is," is hoe Beukman daardie steun verwoord.
Dís wat die span laat voortbeur het. "Daardie energie . . . nadat die mat sommer so onder ons uitgepluk is . . . dís wat gemaak het dat jy kan áángaan."
'n Laaste taak
Beukman voel egter baie sterk daaroor dat Beeld nie deur die afgelope jaar gedefinieer moet word nie. "Kyk na die afgelope vyftig jaar. Al die lesers, redakteurs en redaksielede wat in die tyd deur formidabele verandering gegaan het." Dis 'n verhaal wat vervat is Beeld 50 - om 'n groot storie hard te slaanwat vanjaar as deel van die koerant se halfeeu-viering verskyn het.
En net so dink Beukman ook aan sy redakteurskap oor die volle tydperk van nege jaar. Naas Peet Kruger (2000-'09 en weer 2011-'13), was hy die langsdienende, gevolg deur Ton Vosloo (1977-'83).
Wat gaan hy op Vrydag 20 Desember doen sonder 'n spertyd vir die Saterdagkoerant?
"Afsluitingsadministrasie . . . ek is nog tot einde Desember in diens."
Maar daar is nog 'n laaste taak wat hy wíl afhandel.
"Die hoofrede waarom ek tot die onderhoud ingewillig het.
"Ek wil al die lesers, redaksielede, al die vorige redakteurs, die advertensiespan en die afleweraars van die afgelope vyftig jaar bedank vir hul betrokkenheid by Beeld . . . en ek wil almal in die Beeld-gemeenskap ook reguit in die oë kyk en om verskoning vra vir die hantering van die sluiting van die koerant wat met lomp en dik vingers aangepak is . . .

"En ek sê dit nie net as redakteur van Beeld nie, ek trek ook my Media24-baadjie aan . . . om verskoning te vra vir die disrespekvolle en swak manier waarop die besluit geneem en uitgevoer is.
"En ek sê dit ook ter wille van Media24, in die hoop dat daar in die nuwe jaar 'n vernuwing sal kom en die maatskappy soos met vorige terugslae weer sal opstaan uit die stof en almal sal verbaas met nuwe dinamika."
En daarmee is dit asof 'n storm ook in hom stiller word.
‘Die slimste waarnemers'
Het hy hoop vir Afrikaanse joernalistiek? "Daar is kommer oor Afrikaans. Willem Botha, 'n vorige redakteur van die WAT, het gesê Afrikaans is reeds 'n soort voortaal van Engels. My eie gunstelingvoorbeeld is in 2019 het die Springbokke byvoorbeeld nog die eindstryd van die Wêreldbeker gewen, maar die afgelope jaar was dit die finaal."
Maar, Afrikaans, sê hy, is ook "soos 'n rankplant wat in barste en skeure bly groei wat jy nie uitgeroei kan kry nie". En as jy - soos hy - onlangs Nêrens, Noord-Kaap gekyk het, wéét jy "Afrikaans het nog 'n lang pad om te stap".
En joernalistiek?
"Netwerk24 het 'n ongelooflike konsentrasie van talent en al maak hulle 'n ál meer digitale sprong, daar is reeds baie lesers wat nuwe intekenare daar inwag."
Die voorwaarde vir goeie joernalistiek - ook in Afrikaans - is volgens hom egter onderhewig aan die instandhouding van redaksionele onafhanklikheid.
"Wanneer die bestuur of eienaars daar begin inmeng . . . kyk maar wat in die pasafgelope verkiesing in die VSA gebeur het toe The Washington Post 250 000 intekenare verloor het weens inmenging van die eienaar."
En in die hele prentjie "moet jy die leser nie onderskat nie. Die lesers is die slimste waarnemers in die hele mediabedryf".
Hy meen ook kleiner rolspelers soos Vrye Weekblad, Maroela Media, Afrikaans.com, LitNet en groter spelers soos Pretoria FM en RSG se aktuele nuusprogramme maak 'n sterk bydrae tot Afrikaanse joernalistiek en sorg vir 'n veelheid van stemme. "En Rapport, wat darem nog 'n redaksie en redakteurskap [op Netwerk24] behou, is ook 'n rede tot optimisme."
Wat lê vir hom voor?
Beukman is van plan "om voltyds aktief te bly". Hy is onlangs verkies tot die direksie van Gryskrag, 'n organisasie van vrywilligers wat hulle beywer vir die regte van afgetredenes.
Hy voorsien dat hy "vier tot vyf vryskutprojekte" in die nuwe jaar gaan aanpak wat hom vyf dae van die week sal besig hou.
Joernalistiek, vertel hy, is die soort werk "wat jou maar intrek".
Sy dae het 08:30 begin met 'n vergadering en saans het hy tot 21:30 gewag om die volgende dag se voorblad af te teken.
Hy sien daarom daarna uit om in die nuwe jaar ook in te haal op leeswerk wat agterweë gebly het.
Maar vir eers kan hy nie wag vir 25 Desember om 22:00 nie, wanneer hy en Ulricka op 'n vliegtuig klim om in Dublin te gaan kuier.
"Ek leef vir daardie oomblik wanneer die lugwaardin sê: ‘Iets vir jou van die trollie af?' "

Gunstelinge
Fliek: Conspiracy Theory met Mel Gibson
Kos:'n Báie matige kerrie met vrugteblatjang, saam met 'n goeie glas rooiwyn.
Motto:"Never deny your own experience or convictions."
Stokperdjies: "Stap in die natuur, waarvan ek die laaste jaar heeltemal te min gedoen het . . . om 'n lekker Deon Meyer-boek te lees en om historiese reekse op Netflix te kyk oor iets soos die tsaar van Rusland."
SMS'er: Uiteindelik was dit seker maar Joe Kleynhans. Baie mense het gedink Joe bestaan nie!" Toe Beukman met die SMS'e begin werk het, het hy ontdek hier is iemand "wat elke dag hoogs aktuele, raakvattende SMS'e oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe" stuur. Beukman het begin om elke dag 'n SMS van Joe te publiseer "en hy het aanhou stuur". Aan die einde van die jaar het hy vir Joe 'n vrugteruiker gestuur. En by Beeld se lesersontbyt "het Joe uit die kas geklim".
Briefskrywer: "Daar is sulke briljante briefskrywers . . . Ilzé Kotzé, Koos van die Waterberge, Willem Theron van Montana . . . maar uiteindelik die gewone lid van die publiek . . . baie stories is opgevolg uit ons briewe. Dit was die polsslag van die koerant."
Oor die politiek, die Grondwet en die RNE
"Ek sien altyd die glas as half vol, eerder as half leeg. Maar dit kan ook beteken dat 'n mens soms ooroptimisties is."
Wanneer hy egter kyk na die politieke situasie in die land, is dit vir hom ironies dat die enkele ding "wat gekeer het dat ons nog nie finaal oor die afgrond gestort het nie die Grondwet is - met al sy leemtes en gebreke".
Dis die einste Grondwet wat gekritiseer is omdat dit verhinder het dat adv. Busisiwe Mkhwebane vinnig deur pres. Cyril Ramaphosa uit die pos van openbare beskermer (OB) onthef kan word. Maar, wys hy uit, dis dieselfde Grondwet wat adv. Thuli Madonsela beskerm het toe sy as OB 'n verslag opgestel het waarin sy Jacob Zuma se staatskaping en diktatuur uiteengesit het.
Hy meen Suid-Afrikaners is soms dalk "te hard" op die onderhandelaars wat destyds saamgewerk het om die Grondwet saam te stel.
En die regering van nasionale eenheid (RNE)? "Die RNE gaan nie slaag uit welwillendheid nie. Hulle moet 'n verskil maak met dienslewering."
• Van Eeden is Netwerk24 se Stemme-redakteur.















