Terwyl jy dié rubriek lees, het nie ek of jy 'n benul of 'n BTW-verhoging begin volgende maand ingestel gaan word of nie.
Onsekerheid heers al die afgelope maand of so. Die ANC is baie vasbeslote om 'n BTW-verhoging in te stel, maar sukkel om genoeg steun van ander partye te kry om 'n pro-BTW-begroting sonder enige belemmering deurgevoer te kry.
Hoewel die regering die fiskale raamwerk van die begroting deurgevoer kon kry met behulp van sommige partye, gegrond op 'n belofte dat hy nie met die BTW-verhoging sou voortgaan nie, het die minister van finansies, Enoch Godongwana, nou aanvaar hy is nie by magte om die verhoging om te keer nie. Net die parlement kan dit omkeer deur wetgewing daarvoor te aanvaar. Dit is alles nou so ingewikkeld.
Dié verwarring en onsekerheid is alles toe te skryf aan die feit dat 'n dier genaamd regering van nasionale eenheid (RNE) ons bewind nou bestuur. Dit is 'n reëling van nege partye wat saam met die ANC probeer om die land bymekaar te hou.

Vandag wil ek 'n bietjie oor dié RNE nadink. Dié RNE het nie uit die een of ander skerp, abstrakte konsep gemik op 'n hoër doel ontstaan nie. Dit was nie 'n langtermynstrategie waaraan al geruime tyd gewerk word ter wille van 'n welvarende Suid-Afrika nie.
Die RNE was inderdaad 'n desperate voorstel van die ANC om homself aan die bewind te hou terwyl hy teoreties die mag met die ander nege partye deel.
Hoewel die ANC verwag het sy steun sou in die 2024-verkiesing afneem, was hy geskok oor die enorme omvang daarvan - van 57% in 2019 tot 40% verlede jaar. Die party het verwag dit sou tot tussen sowat 48% en 50% afneem, wat sou beteken hy sou net een party se steun nodig hê om hom tot bo 50% ('n meerderheid) te kry.
Maar die 40% het ANC-lede paniekerig gemaak omdat hulle baie meer politieke partye nodig gekry het om in die saal te bly. Dis hoekom hulle vorendag gekom het met die RNE, wat so deftig klink.
Dié konsep is gemodelleer op die RNE van 1994 waarin die ANC, al het hy geen vennoot nodig gehad om te regeer nie, steeds na ander uitgereik het om deel van die bewind te wees.

Daardie RNE was 'n behoorlik uitgedinkte strategie van die ANC om uit te reik na wit mense wat die land dekades lank alleen bestuur het, om hulle te verseker dat hulle steeds 'n rol in die toekoms van die land het.
Die ANC onder Nelson Mandela was destyds onder hoegenaamd geen verpligting om op dié manier uit te reik nie, maar het besef versoening is nodig vir die toekoms van hierdie land.
Dit was 'n grootse gebaar, aangesien dit ook die markte gerusgestel het, asook almal anders wat bekommerd was oor ons toekoms onder 'n onervare ANC-leierskorps.
Daardie RNE het hoofsaaklik die Nasionale Party en die IVP ingesluit en het sowat twee jaar lank gehou totdat die NP hom daaraan onttrek het weens verskille met die ANC.
Tog, solank as wat dit gehou het, het dit 'n positiewe sein binne en buite die land uitgestuur.
Dit was dus die model wat pres. Cyril Ramaphosa geleen het toe hy die RNE verlede jaar van stapel gestuur het.
Hoewel ek daarvan oortuig is dat die ANC dit nie om altruïstiese redes gedoen het nie, is die RNE steeds die beste ding vir die land, selfs nou.

Die verwarring en onsekerheid oor die BTW illustreer egter hoekom dit 'n moeilike en pynlike reëling is. Die rede daarvoor is dat die ANC steeds verkeerdelik dink hy kan op sy eie die kitaar slaan.
In dié geval het hy gedink hy kan die begroting net deurgevoer kry met die minimum bydraes van ander belanghebbendes. Maar die ander partye het hul stemme gebruik om die ANC in sy spore te stuit en hom te dwing om te onderhandel oor ander moontlike oplossings om vir 'n R80 miljard-begrotingstekort te vergoed eerder as 'n strawwe BTW-verhoging.
Dit is die eerste keer dat die ANC behoorlik voel hy kan nie sonder ander regeer nie.
Ons weet nog nie wat die finale oplossing vir die BTW-begrotingskwessie gaan wees nie. Maar ons weet die finale oplossing sal weens 'n kompromis kom. En dis hoe dit moet wees.
Koalisieregering is in wese broos en kwesbaar. Maar die lede daarvan het die potensiaal om die beste ooreenkoms vir die burgery te bereik, soos die huidige druk vir die skrapping van die BTW-verhoging wys.
Dit kan egter ook 'n tweesnydende swaard wees omdat die ander partye in die RNE-koalisie die bewind as gyselaar kan hou deur net prosesse te frustreer sonder om lewensvatbare alternatiewe oplossings te bied.
Die RNE werk nie heeltemal soos die ANC gedag het hy sou dit gebruik nie, en dit kan net goed wees vir die land.

• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.








