Profiele

Die ‘ander oog’ van die brose Koos du Plessis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Irma du Plessis het teen die tyd dat sy 10 of 11 was al die idee gehad het dat haar pa ’n brose mens is.
Irma du Plessis het teen die tyd dat sy 10 of 11 was al die idee gehad het dat haar pa ’n brose mens is.

Koos du Plessis was 'n brose mens vir wie bestendigheid nie altyd maklik was nie, sê Irma du Plessis, sy oudste dogter, aan Murray La Vita in 'n wydlopende onderhoud 40 jaar ná haar pa se skielike dood.

Die fokus van die aanlyn onderhoud met dr. Irma du Plessis is Erfdeel: Koos du Plessis - Versamelde Werke wat nou, 40 jaar ná Koos se dood in 'n motorongeluk, by UJ Press verskyn het. Dit is 'n herdruk van die uitgawe van 2004 waarvan sy die samesteller is.

Irma en haar man, die digter, kunstenaar en musikant Andries Bezuidenhout, is albei sosioloë verbonde aan die Fort Hare-Universiteit in Alice, waar sy direkteur in die kantoor van die rektor is.

Die opvallendste eienskap van Irma se voorkoms is haar lieflike grysblou oë. Sy praat stadig en is klaarblyklik iemand wat nie 'n vrees vir stilte het en alle ruimtes krampagtig met woorde wil vul nie - sy sal nou en dan stilbly.

Deur soms in die teenwoordige tyd oor die legendariese figuur Koos du Plessis te praat, skep sy die indruk dat hy nog hier is; maak sy hom aanwesig. Dit is natuurlik in 'n sin wél die geval.

Die onderhoud begin by die vraag of Koos 'n esteet was.

Hierdie foto van Koos is laat een aand in die kantoor van Oggendblad geneem. Foto: Oggendblad
Hierdie foto van Koos is laat een aand in die kantoor van Oggendblad geneem. Foto: Oggendblad

"Ek dink hy wás. Iemand wat 'n fokus het op 'n stilistiese, 'n teksgebaseerde stilistiese benadering, het gewoonlik 'n ander oog ook. Hy was in ander opsigte ook skeppend: Hy was gesteld op sy inheemse tuin - sy gunstelingboom was die kiepersol. Hy was ook lief vir bouwerk en skrynwerk. Hy het inderdaad 'n voorstedelike woonhuis omskep in iets besonders met allerhande muurtjies en kliptafels en selfs 'n klein tempeltjie."

Irma was amper 11 toe haar pa gesterf het.

"Ek kan terugstap in daardie 11-jarige self. Op daardie ouderdom sien 'n mens meer as wat net op die voorgrond is. Ek was tóé al iemand wat miskien te veel goed opgemerk het; wat daardie vermoë gehad het om 'n dubbelkyk te gee.

"Ek wonder of ek dit nie gehad het omdat ek saam met my pa en sy musiek grootgeword het nie? Dit is 'n deurlopende tema in sy musiek . . . Baie van sy lirieke is perspektiefwisselend; dís hoe jy dit sien, maar dís hoe ek of iemand anders dit beskou. So, ek weet nie - dis dalk maar net een van my kenmerke; of dis dalk baie tipies van daardie ouderdom. En daardie fokus, die feit dat ek rêrig geléér is om twee keer te kyk, om dubbel te kyk - om te probeer sien wat is nou eintlik hier aan die gang? Dit het my goed te staan gekom."

‘Soos wat pa's het'

Wat was die aard van hul verhouding? Het sy baie tyd in sy teenwoordigheid deurgebring? Hom dopgehou? Aandagtig na hom geluister?

Koos du Plessis en sy drie dogters. Van links is Karla, Karien en Irma. Die foto is geneem by hul huis in Wierdapark, Centurion (voorheen Verwoerdburg), waar hy vanaf 1973 tot en met sy dood gewoon het.
Koos du Plessis en sy drie dogters. Van links is Karla, Karien en Irma. Die foto is geneem by hul huis in Wierdapark, Centurion (voorheen Verwoerdburg), waar hy vanaf 1973 tot en met sy dood gewoon het.

"My pa het met al drie sy kinders 'n hegte verhouding gehad soos wat pa's het. Ons was versot op hom. Hy het regtig moeite gedoen om kindertyd vir 'n mens magies te maak: verrassings, onverwagte wendings . . . Net goed wat jou asem wegslaan.

"Een aand was ons besig om Scrabble te speel as 'n gesin en in 'n stadium boender hy ons eensklaps bed toe terwyl ons nog besig is om te speel. Hy het gesê ons moet ons tande gaan borsel. Ons het klaar ons tande geborsel en is baie ongelukkig en nou word ons teruggeroep na die bord toe - so tien minute het verloop. Ons sit toe weer om die bord en nou moet ons die stukkies omdraai. Dit het toe skielik by hom opgekom hy moet 'n blok wit sjokolade gaan koop en hy het die Scrabble-blokkies daarmee vervang."

Sy onthou nog iets. Toe sy omtrent sewe was, het sy " 'n begeerte gehad vir 'n feetjiekasteel-koek".

"Ek dink ek het êrens 'n prentjie opgetower en om eerlik te wees: Dit was 'n onmoontlike ding om te maak. Hulle het seker gedink hulle gaan my moet teleurstel. Toe sê my pa: ‘Dis nou een ding om 'n feetjiekasteel te hê, maar wat van 'n militêre fort?' En hy het weggetrek en ek het opgeëindig met 'n militêre fort met vlaggies en vestings en . . ."

Sy lag.

"So, dis die magiese deel. En dan is daar die deel dat ek teen die tyd dat ek 10 of 11 was die idee gehad het dat my pa 'n bróse mens is. Ek dink daarom het ek hom dopgehou; ópgemerk; sy gemoedstoestand fyn gemonitor. Daar was 'n bewustheid dat hy 'n brose persoon is en dat bestendigheid nie altyd vir hom maklik is nie.

"En dat hy iemand is wat oor dinge dink en dikwels swaarkry. So, dít is wat ek ook bedoel met dubbelkyk. Daar is heeltyd hierdie magiese, wonderlike goed . . . fantasties, kléin, kléin. In die alledaagse lewe word goedjies ingewerk en dan terselfdertyd is daar hierdie ander storie van 'n meer brose persoon."

‘Erfdeel' het pas by UJ Press verskyn.
‘Erfdeel' het pas by UJ Press verskyn.

Hy was soms geweldig depressief, maar meesal was sy uitkyk op die lewe "eenvoudig núgter".

"Dit was 'n nugtere, sobere blik - om dinge te sien vir wat dit is. Die meeste mense verkies om vir hulself ander stories te vertel oor hoe die lewe is en wat aangaan."

Hy het ook 'n baie goeie houvas gehad op hoe dit is om 'n kind te wees.

"Spesifiek, dink ek, om homself te wees en hoe hy was as 'n kind. En hoe die wêreld ook was en wat vir hom ongelooflik was en wat vir hom swaar was. Hy het daai aanvoeling gehad, wat beteken het hy het geweet wat om te doen."

‘So half sleazy'

'n Groot deel van Koos se joernalistieke loopbaan was by die dagblaaie Oggendblad en uiteindelik Die Transvaler. Die redaksiekantore sowel as die rolpers was in 'n fabriekagtige gebou in Mitchellstraat, Pretoria-Wes, 'n nywerheidsgebied nie ver van 'n abattoir, spoorlyne, die Weskoppies- psigiatriese hospitaal, Yskor en die polisie se opleidingskollege nie. Op die hoek van die aangrensende straatblok was die Western Hotel waar blouboordjiewerkers en joernaliste daagliks in die kroeg skouers geskuur het.

"As kinders het hy ons soontoe [na die koerantkantore] gevat en jare later was ek die redakteur van Die Perdeby, die Tukkies-koerant, en toe het ons ons koerant daar gedruk, so dit was vir my nogal besonders om só op sy spore terug te loop. Daardie kantore is mos so half sleazy. Dis so 'n lieflike verlore deel van die stad."

Koerantwerk was absoluut Koos se nering.

Mathys Roets met (van links) Koos du Plessis se weduwee, Mornay du Plessis, en dogters, Karien, Irma en Karla, by die spesiale vertoning van die vertoning ‘Doep is nie dood nie' op die 40ste herdenking van sy dood in die Atterbury-teater in Pretoria.
Mathys Roets met (van links) Koos du Plessis se weduwee, Mornay du Plessis, en dogters, Karien, Irma en Karla, by die spesiale vertoning van die vertoning ‘Doep is nie dood nie' op die 40ste herdenking van sy dood in die Atterbury-teater in Pretoria.

"Hy het deur die jare verskillende goed gedoen, maar vir die langste periode het hy as 'n subredakteur gewerk. Drukkersink loop in sy are. As 'n jong seun het hy sy eie koerantjie gehad - daardie drukkerstelletjies met die ink; hy het sy eie lieflike koerantjie gemaak. So, dit was lankal daar. Terselfdertyd het hy gesê: Vandag se nuus . . . môre draai jy die vleis of die vis daarin toe. Dis ook maar verganklik: Ná die groot gespook om 'n uitgawe uit te kry, beweeg die rolpers aan en die volgende uitgawe kom.

"Maar natuurlik het dit ook vir hom die geleentheid gegee om in die nag te werk. Ek dink die nagkantoor is sy milieu. Hy was een vir die nanag en die onderwêreld; op 'n manier gedy mense soos hy in so 'n omgewing. Ek dink ook tereg dat hy saam met 'n klomp kreatiewe mense gewerk het.

"Ons praat van 'n ander era; ons praat van . . . hy is in '84 dood, twee jaar voor die noodtoestand. So, dit is verskriklik moeilike en spanningsvolle jare en terselfdertyd is daar 'n groot klomp interessante mense saam met wie hy werk. Hy kon nogal die spot dryf met die hiërargiese kultuur wat ek dink in daai stadium in 'n mate nog in die Afrikaanse perskantore en beslis in die staatsdiens geheers het.

"Hy het 'n ongelooflike, oorrompelende sin vir humor gehad. Hy was spitsvondig; vlýmskerp. Ek dink hy sou net sowel 'n kopieskrywer kon wees vir 'n advertensieagentskap, maar die sinisme daarin betrokke sou dalk net té veel gewees het.

"As 'n subredakteur ook . . . Jy kry mos party subredakteurs wat puntenerig is en natuurlik was hy in 'n sin puntenerig, maar hy was aan die kreatiewe kant en kon met taal speel."

Koos in die subkantoor van ‘Die Transvaler' in Pretoria-Wes. Foto: Die Transvaler
Koos in die subkantoor van ‘Die Transvaler' in Pretoria-Wes. Foto: Die Transvaler

Koos was soms nog wakker wanneer Irma en haar susters soggens opstaan.

"As 'n mens terugkom van nagskof af, is dit moeilik om af te wen en daardie nanag is die tyd waarin hy floreer, so 'n mens het hom soms nog in die oggend aangetref."

Wêreldvreemd

Irma skryf in die voorwoord tot Erfdeel: "Bowenal wou Mornay [haar ma], Karien, Karla en ek verseker dat 'n volgende generasie Suid-Afrikaners en Afrikaans-sprekers toegang tot Koos se werk het."

Ek vra haar hieroor.

"My suster se seun Lukas van Garderen het in 'n baie ander milieu grootgeword: hy is 'n Johannesburger en hy was in Sacred Heart; hy praat Afrikaans, maar sy wêreld is nie Afrikaans nie. En hy en sy vriende het hierdie hip-hop band 12 Dogs. Die ander lede van die band kan nie Afrikaans praat nie - maar nou die aand het 'n paar van hulle my pa se gedig ‘Afskeid' na Engels toe vertaal en daarmee rondgepeuter. En hulle het sy musiek deurgeluister, met Lukas wat hier en daar losweg vertaal.

"Hulle was baie opgewonde daaroor. Dit beteken net hulle kry iéts daaruit. Dis nie 'n herléwing of enigiets nie. Dit het my geïnteresseer dat iemand wat baie ver daarvandaan is tóg iets daarvan kan vasvang en begryp. Daar is nog veel uit Koos se werk te put en te herontgin; vir Afrikaans-sprekendes en die nabye taalfamilie, maar ook die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. Wessel van Rensburg en McCoy Mrubata se weergawe van ‘Kinders van die wind' is tog onvergeetlik."

‘Hóé het hy geweet?'

Oor waarom Koos se werk steeds so sterk tot mense spreek, sê sy voorts:

"Soveel mense het dit al gesê: Sy musiek- en melodielyne is so 'n eenheid; dis so eenvoudig op een vlak, en juis so treffend en so tydloos, dat amper almal wat wél soms stop en nadink, iets van hulle eie ervaring daarin gereflekteer sien; iets vasvang. Jy moet vir 'n oomblik stop om dit te besef.

"Ek dink dit vang jou op verskillende maniere in verskillende stadiums van jou lewe. Francois van Coke van Van Coke Kartel het byvoorbeeld 'n ruk terug 'n vreeslike pragtige verwerking van ‘Skadu's teen die muur' gedoen in 'n nog méér van 'n mineurtoon as Koos se oorspronklike melodie. Dit sê vir my iets van hoe sy werk tot mense se ervaring spreek.

Koos in 1982 op die Afrikaanse Musiekfees op Vanderbijlpark. Foto: Rapport
Koos in 1982 op die Afrikaanse Musiekfees op Vanderbijlpark. Foto: Rapport

"My ma het nou die dag gesê . . . ek dink sy het weer na ‘Teen skemeraand' geluister waarin hy sê: ‘as al jou einders eindelik brand/en jou hart jou smeek om rus/dan eers weet jy wie jy is'. Ek dink haar ervaring van waar sy nóú in haar lewe is, láát in 'n mens se lewe . . . Sy het gesê: Hóé het hy geweet? Hy is op 39 dood; hoe het hy geweet hoe om dit vas te vang?

"So, hy het 'n vermoë om iets universeels vas te vang en hy doen dit op 'n . . . Ek is nie iemand wat die woord ‘pretensieus' maklik gebruik nie, want ek hou van kompleksheid en dig verweefde goed, so ek noem nie net enigiets pretensieus nie, maar ek dink sy werk - sy musiek en liriek - is sonder pretensie," sê sy.

"Maar dit is gewéldig kompleks en gelaagd en soms geweldig melancholies. Soms 'n bietjie nostalgies, maar nooit sóét nie. Selfs die sagter kyk, die sagter onthou, het 'n soort onderkant," sê Irma.

CTA