Spioenasie is so 'n vuil beroep dat net gentlemen dit kan bedryf, het dr. Niël Barnard in 2015 aan Murray La Vita gesê. Netwerk24 publiseer dit weer ná Barnard se dood Maandagoggend.
Dr. Niël Barnard ontvang ons by 'n kantoorkompleks in 'n noordelike voorstad van Kaapstad.
Die onderhoud vind plaas in 'n raadsaal by 'n groot tafel. Teen een muur is 'n reusestaalhorlosie en teen 'n ander is boekrakke waarop boeke met titels soos Tragedy and Hope, Young Stalin, Kofi Annan en Spies for Hire staan.
Ons is in die kantore van sy maatskappy Bernhardt Holdings (genoem na die Barnards se stamvader), wat onder meer "strategiese inligting" aan die Suid-Afrikaanse regering en regerings in die res van Afrika verskaf oor sake wat dié lande se stabiliteit beïnvloed, en soms raad met staatsadministrasie verskaf om beleid tot uitvoer te bring.
In Barnard se Geheime Revolusie: Memoires van 'n Spioenbaas (soos vertel aan Tobie Wiese) sê hy immers: "Ek het 'n natuurlike aanleg om 'n organisasie te bestuur en leiding te neem. Al moet ek dit self sê: Ek is 'n bleddie goeie voorsitter. Ek neem besluite, tydige besluite, sorg dat dit uitgevoer word, en ek funksioneer goed onder druk..."
Die leser verneem ook Barnard het dit as 'n kompliment beskou toe oudminister Kobie Coetsee aan hom gesê het een van die redes hoekom hy gekies is om die geheime gesprekke met Nelson Mandela te lei, is dat hy "so hardegat kan wees".
Dít beleef óns nie. Barnard is op die oog af in 'n gemoedelike luim en maak in die loop van die onderhoud selfs 'n paar skertsende opmerkings. Daar is egter flitse van die Barnard van die PW-era: 'n kil blik; 'n klaarblyklike geslotenheid tot of afkeer van iets of iemand; of die stugheid wat hy in die boek aan homself toeskryf.
Hy is in Mei 1988 deur pres. P.W. Botha gevra om aan die hoof te staan van " 'n klein regeringspan" wat verkennende gesprekke met Nelson Mandela moet voer.
Volgens hom het minstens 50 van hierdie geheime gesprekke oor sowat 200 uur plaasgevind. Die Nasionale Intelligensiediens (NI) se kodenaam vir dié "projek" was "Sagmoedige Neelsie".
Eerste ontmoeting
Die eerste ontmoeting met Mandela was op 25 Mei 1988 in 'n kantoor in die Pollsmoor-gevangenis.
"Hier gaan die deur oop en daar staan die man wat die president gaan word in die deur met 'n blou overall en gumboots. Maar ten spyte van wat hy aan het, is daar 'n gravitas wat uit hom straal, en dit is een van die goed wat ek altyd van Mandela sal onthou. Omdat hy so gemáklik met homself was, kon hy baie natúúrlik wees, en omdat hy baie natuurlik was, het mense baie gemaklik in sy teenwoordigheid gevoel.
"Jy weet daai ou dánse van hom en daai goed wat hy gedoen het, wat 'n mens partykeer 'n bietjie laat lag het, wil ek amper sê... Maar dis nie ingestudeer nie, dis nie asof iemand hom afgerig het nie - dís hoe hy was.
"En dit het onmiddellik op ons 'n groot indruk gemaak. En dan het ek ook geskryf dit is tog vir my... jy weet, tipies soos die staatsdiens is, jy kry mos hierdie groot vlekvryestaalskinkborde met toebroodjies en versnipperde blaarslaai... en as jy nou kyk met hoeveel oorgawe hy hom daartoe gewend het, dink 'n mens by jouself dit is darem maar iets om te sien; hierdie man gaan president word binnekort en ons móét vir hom die geleentheid skep om homself voor te berei... Daai eer kom Kobie Coetsee toe. Hy was nie by die gesprek nie [hy het Mandela wel al vroeër besoek], maar hy het van die begin af gesê: ‘Kom ons kry hom in 'n omgewing waarin hy hom ordentlik kan voorberei.' "
Daarom, onder meer, is hy in die huis by die Victor Verster-gevangenis gevestig en van waardige klere voorsien.
"Ek vind dat mense nie vir ons erkénning gee daarvoor nie... vir daardie Calvinistiese ordentlikheid. Hierdie klomp Bóére, die meeste van hulle is Boere; hierdie apártheidsamptenare, het die insig om hom nie te probeer verneder en af te kám en dit vir hom moeilik te maak nie. Ons wil hom graag voorberei. Hoekom? Hierdie man, Nelson Mandela, is gevangene nommer een en 'n groot figuur - hý gaan ons land se president word en ons moet hom nou in die volgende tydperk voorberei, soos ek in die boek skryf: dat hy nie soos Paul Kruger daar by die queen allerhande snaaksighede aanvang nie... Ek probeer nie snaaks wees daaroor nie; ons wou hom graag voorberei."
Barnard skryf in die wêreld van spioene geld die gewone reëls nie en is alles geoorloof in die naam van staatsveiligheid. Hy beskryf 'n intelligensiehoof as " 'n magtige mens met ontsaglik baie vryheid".
Ook skryf hy hy is in beginsel "nie daarteen gekant dat mense wat die veiligheid van die staat dodelik bedreig en 'n gevaar vir die samelewing is, uit die weg geruim moet word nie".
Ek pols hom hieroor.
"Ek wil begin met die aanhaling wat ek na die Duitsers toe terugvat; dis vir my nogal 'n baie mooi aanhaling: Intelligensiewerk is so 'n vuil beroep dat net gentlemen dit kan beoefen.
"Dit ís 'n werk wat in die duister van die wêreld plaasvind. Hoekom? Dis 'n werk wat voortdurend lê tussen dit wat wettig is en nié wettig is nie. En die vraag is: As jy na die staat se belange kyk... en baie mense, en jy is heeltemal reg, sal sê die staat van daardie tyd was op sigself immoreel; het jy met ander woorde 'n immorele stelsel verdedig?
"Dis nie moontlik, na my oordeel, om die land en sy veiligheid te vergelyk met individuele menseregte en dan 'n individuele mensereg se belang hoër te ag as die veiligheid van die staat nie. Hoekom? As die staat nie veilig is nie, is dit nie net individue wie se lewe in gevaar is nie, dis die héle bevolking."
Invloed moet beperk word
'n Intelligensiediens en die invloed wat hy het, behoort ook op morele vlak voortdurend beperk te word deur meganismes daar te stel wat hom nie sal toelaat om 'n "rogue elephant" te word nie, meen hy.
Die gebeure rondom 'n bandopname wat Botha laat maak het van die gesprek by sy eerste ontmoeting met Mandela in Tuynhuys het volgens Barnard gelei tot "die grootste vernedering van my lewe''.
"Ek het nie daarvan [die opname] geweet nie. En die rede dink ek is voor die hand liggend: P.W. het baie goed geweet wat my antwoord sou wees as hy my sou gevra het. Ek sou vir hom gesê het: ‘Meneer, ons kán nie daai risiko vat nie. Sê vir Mandela. Dis nie asof ék met hom praat in 'n huis in Victor Verster nie - dit vind in Tuynhuys plaas; dis tussen die staatshoof en 'n man wat klaarblyklik binnekort die staatshoof gaan wees. Ons kán nie dit doen nie; as jy dit wil doen, sê vir hom.'
"En ná die tyd hier land die bandopname in my skoot. Ek het ná die tyd 'n opsomming daarvan laat maak en die bandopname uiteindelik vernietig.
"Toe het die onderonsie nou gekom... P.W. het ongeduldig geraak en hy wou ná sy beroerte vir die hele wêreld vertel hy het Mandela so reggesien en was so sterk. Eintlik vat hy die lyn: ‘[F.W.] De Klerk maak nou toegewings wat ék nooit sou gemaak het nie.' Hulle twee se gesprek was nie 'n politieke diskoers nie.
"Meneer De Klerk het my gevra: ‘Man, gaan praat tog met die man...' En ek het toe met hom gaan praat... Dit was 'n úiters onaangename gesprek. As ek sê dit was die grootste vernedering van my lewe... Dit was nogal moeilik vir my om te hoor ek is nie meer betroubaar nie; ek het hom in die rug gesteek; ek is nie meer sy vriend nie; NI was sommer 'n ou spul swak mense... En daardie wóéde het net eenvoudig tot uitbarsting gekom."
Laaste PW-dae
Ons praat oor die laaste dae van Botha se bewind en 'n besoek wat Barnard soos volg beskryf:
"Die aand voor die beslissende kabinetsvergadering van 14 Augustus [1989] kom ek by hom en mev. Botha in Westbrooke. En wie is daar om hom van advies te bedien terwyl hy worstel oor sy plek in die geskiedenis? Boet Troskie, die filmmaker van Bloemfontein."
Tussen die lyne staan daar iets van 'n tragedie, sê Barnard.
"Hier is hierdie groot figuur... Hy's teen die einde. En wie's daar om hom raad te gee? Dis weer die ander kant van P.W. - hoe eensaam hy op daai stadium was.
"Orraait, ek is ook daar, ek probeer 'n bietjie help waar ek kan... Maar hier sit hy eintlik alleen en môre moet hy die kabinet gaan pak. Hy behoort eintlik vanaand 'n binnekring van ou ringkop-adviseurs te gehad het."
Het hy Botha as iets van 'n vaderfiguur ervaar?
"Daar was 'n baie noue verstandhouding tussen hom en my. Ek sou nie noodwendig sê dat die verhouding soos dié met 'n váder was nie...
"Ek het met mevrou Botha amper meer 'n verhouding soos dié van 'n seun gehad. In die beginjare, onthou ek... dit was nogal vir my kostelik... Ek is 'n mannetjie van 30 en ek is hier in hierdie rowwe wêreld van die [Staats]veiligheidsraad en groot dinge; dan het sy my altyd so gevat en dan druk sy my so en dan sê sy vir my: ‘Jong, jy moenie laat hulle vir jou seermaak nie. Jy moet regop staan.' "
Agtergrond
Niël Barnard is op 14 Junie 1949 gebore en het sy eerste lewensjare in Otavi, naby Otjiwarongo, deurgebring.
• Hy het 'n doktorsgraad in staatsleer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal en was tot 1979 daar hoof van die departement staatsleer. Daarna het hy hoof geword van die departement van nasionale veiligheid (later Nasionale Intelligensiediens). Hy het dié pos tot Januarie 1992 beklee, waarna hy aangestel is as direkteur-generaal (DG) van die departement van konstitusionele ontwikkeling en later as DG van die Wes-Kaap. Hy en sy vrou, Engela, woon in Kleinbaai. Hulle het drie seuns, Nico, Hannes en Niela.



















