Profiele

Proust met Hannon Bothma

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hannon Bothma, Suid-Afrika se Glam Guru, spits homself deesdae toe op die bemarking van sy haarsorg-, velsorg- en grimeerprodukte.

Hannon Bothma
Hannon Bothma

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

My loopbaan en persoonlike ontwikkeling, van plattelandse seun tot 'n bekende handelsnaam en gerespekteerde persoon wie se persoonlike en professionele opinie gevra word.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

'n Gebalanseerde lewe waar ek genoeg tyd het vir al die fasette van my lewe en waar ek genoeg liefde ontvang en ook gee.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Hoopvol en opgewonde.

Wat is jou gunstelingberoep?

Om die gesig en stem te wees van my handelsnaam, Hannon.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My huis.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My sakeonderneming, almal wat daar werk en elkeen wat my produkte koop.

Wat is jou gunstelingreis?

'n Maand op die Griekse eiland Skiathos waar ek hare sny in ruil vir kos.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

My veerkragtigheid help my om telkens te herstel van teleurstellings.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Toe ek pas in my huis ingetrek het met 'n liefdevolle eggenoot en twee Pekinese hondjies wat soggens saam met ons beskuit eet in die bed.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Om ongemaklik warm te kry.

Wat is jou grootste vrees?

Om die mense wat na my opsien teleur te stel.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Ek gaan na 'n buitengewoon duur gimnasium toe.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Wladimir Poetin

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nooit van kindsbeen af 'n Afrika-taal geleer het nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om mense en plekke se name te onthou.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Enige mooi plek waar ek gereeld met my vriende kan kuier.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Selfoon-afhanklikheid.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Emosionele kwesbaarheid. Dit maak nie van 'n man 'n swakkeling nie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

'n Kinderlike en onskuldige geaardheid.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek is altyd oorhaastig en wil 'n klomp take met een slag doen, wat lei tot angstigheid.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Negatiewe energievlakke.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Hulle luister en ondersteun sonder oordeel.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Die Griekse godin Diana wat klein diertjies red uit die kloue van jagters.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Ken Follett

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Ek het dieselfde uithouvermoë as Dick King. Perdry is nie my sterk punt nie, maar ek gee nie op tot ek die eindpunt bereik het nie.

Wie is jou helde in die ware lewe?

My ouers wat aan my die mooiste waardes oorgedra het en opofferings gemaak het sodat ek 'n onderneming kon begin. Kollegas wat my met entoesiasme deur uitdagende tye dra. Vriende wat my enige tyd van die dag of nag sal red.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Madonna, wat met oneindige inisiatief haarself herskep en absoluut in haarself glo.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om jou opinie te lug.

Wanneer vertel jy leuens?

Wanneer die waarheid iemand gaan kwes.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

In plaas daarvan om 'n duidelike opdrag te gee, gebruik ek "Ek wonder of jy asseblief dit of dat sal doen".

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om minder angstig te wees.

Wat is jou gunstelingname?

David en Anna.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Omring deur almal wat vir my lief is en wat gereeld vir my bid.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Perd. Mooi om te bewonder as iemand jou versorg en ook handig om te help met plaaswerk.

Wat is jou motto?

Ek tel nie op wat ek alreeds voor die Here se voete neergelê het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM