Proust met Nicola Hanekom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die dramaturg Nicola Hanekom het vanjaar die Hertzogprys vir drama gewen vir haar toneelstuk ‘Mirre en aalwyn'. Sy het die prys ook in 2021 gewen vir ‘In glas'.

Nicola Hanekom.
Nicola Hanekom.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Ek kon mense opreg vergewe.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om vry te wees van die gevoel dat tyd uitloop.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Bedrywig, maar met die besef dat ek te bedrywig is.

Wat is jou gunstelingberoep?

Tuinier.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My lewe.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My man.

Wat is jou gunstelingreis?

Om boeke te lees. Veral boeke wat afspeel in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Hardkoppigheid. Dis ook my swakste.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Vanoggend toe ek my oë oopmaak was oukei. Nou terwyl ek die antwoorde tik, gaan dinge ook voor die wind.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Wanneer ek myself betrap in oomblikke waar ek vir myself lieg.

Wat is jou grootste vrees?

Die dood.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

My werk. Ek weier om myself te gedra as dit by skryf en regie kom.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Mense wat diere seermaak en onverdraagsame mense wat my verdraagsaamheid uitbuit.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Te veel.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Geduld.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Die Klein-Karoo. Ek bly tans amper gereeld genoeg daar.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Selfsensuur.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Eerlikheid.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Eerlikheid.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ongeduldigheid.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Grootheidswaan.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Liefde. Hulle verveel my ook nie, maar dis net 'n ekstra pluspunt.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

David Blaine.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Leon de Stadler en Marguerite de Stadler (Tesourus van Afrikaans). Sebastian Faulks.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Mahsa Amini.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Ek het nie eintlik helde nie.

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Rafael Nadal.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Skoonheid.

Wanneer vertel jy leuens?

Te gereeld.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Ek het 'n liederlike bek, so my woord kan ek nie hier herhaal nie.

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek sou my mitochondria wou opkikker.

Wat is jou gunstelingname?

Grant, Noe-noe, Toupie, Elana, Amalia, Willemien, Gretha, Henk, Hanlie en Albert.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Ek sou óf van spontane ontbranding wou sterf óf ek sou graag langs my man wou lê en slaap en dat 'n weerligstraal ons albei gelyktydig vat.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Japannese esdoorn.

Wat is jou motto?

Daar is altyd ruimte vir verbetering.

SPELETJIES VANDAG

CTA