Hy hoop sy boeke oor die kunstenaars Samuel Daniell en Thomas Baines verwar ons en laat ons meer vrae vra as wat dit antwoorde bied, sê Michael Stevenson aan Murray La Vita.
Michael Stevenson is die oprigter van die Stevenson-galery, die houer van 'n doktorsgraad in kunsgeskiedenis en die skrywer van talle kunsverwante boeke. Hy woon al etlike jare op 'n plaas in die Cederberge waar hy met proteas en pioene (oftewel pinksterrose) boer.
Stevenson is 'n besonder private mens wat hom geensins van sosiale media bedien nie en ook geen foto's van hom geneem wil hê nie.
Hy is 'n bedagsame en onopgesmukte man. Dit is nie duidelik hoe oud hy is nie (hy verwys in 'n stadium na homself as an ageing white man) maar hy straal lewenslus uit - sy ontblote arms en bene (hy is in 'n pruimkleurige kortbroek en olyfgroen T-hemp geklee) is deur die son ligbruin gekleur. Hy het kort, blonde hare, 'n vol, betreklik sensuele mond, en oë wat groen of blou kan wees.
Die onderhoud vind plaas in die oggendson op die stoep van 'n kliphuis waar ons teenoor mekaar in Morris-stoele sit met voor ons voete op 'n houtblad 'n paar groot kristalle van verskillende kleure. Oorkant dié huis is 'n kleiner huis, waar hy voor die onderhoud vir my 'n koppie koffie maak wat hy in 'n beker van die keramiekkunstenaar Hylton Nel aanbied. Hy is 'n versamelaar van Nel se werk, het al oor hom geskryf, en het vir hom die hoogste agting.

Stevenson se manjifieke biografie Samuel Daniell: An Enigmatic Life in Southern Africa and Ceylon, 1799 - 1811 het pas die lig gesien. Daniell was 'n Engelse kunstenaar en reisiger wat die Kaap en Ceylon (die hedendaagse Sri Lanka) besoek het en honderde besonder treffende en sensitiewe afbeeldings van mense, diere en landskappe gemaak het.
Die geskiedkundige Nigel Penn sê in sy voorwoord: [ . . . ] Daniell's pictures were the first European representations of any accuracy to depict some of the indigenous people of southern Africa - the Khoisan of the Orange River, the Tlhaping or southern Tswana and the Xhosa of the eastern Cape. His pictures are thus not only a record of the moment of the earliest encounters between certain indigenous societies and European colonisers; they also provide a unique glimpse of the life and material culture of these societies before they were irrevocably transformed by the impact of colonisation. As such, they are of inestimable ethnographic value.
Die begin
Die eerste vraag aan Stevenson is wat hom laat besluit het om 'n biografie oor Samuel Daniell te skryf.

"Wat is die lewe sonder nuuskierigheid, sonder ondersoek? As jy professioneel in die kunswêreld werk, is dit soms redelik moeilik om, wanneer jou professionele lewe bestaan uit kreatiwiteit, uit kuns, uit die visuele beeld, iets vir jousélf te vind; iets wat jóú nuuskierigheid werklik prikkel.
"Van die heel eerste keer af toe ek Samuel se tekeninge in die middel-90's gesien het, kon ek nie begryp nie . . . Wie was hierdie mens wat met so 'n beperkte, ekonomiese gebruik van lyn en waterverf [wash] geskep het, en met soveel uitsonderlike waarneming? En ons weet niks oor hom nie.
"Dit is 'n radikale ding om te sê, maar as jy aan die afgelope 250 of 200 jaar van Suid-Afrikaanse kuns dink, moet jy hard dink om [nog] iemand te vind wat daardie sin vir lyn het, en op daardie vlak kan sién en waarneem.
"Hy was net só teenwóórdig. Uiteraard was daar konvensies waardeur hy dit wat hy gesien het, gefiltreer het, maar hy het nie geprojekteer op die wyse waarop die meeste mense dit doen nie.
"Hoe meer ek oor hom probeer uitvind het, hoe meer verward het ek geraak. Hoe kon daar hierdie kunstenaar wees met so 'n uitsonderlike visuele aanvoeling en so 'n uitsonderlike manier van sién, en tog weet ons niks van hom nie?
"Dít is hoe dit begin het. En toe het ek net jare lank aangehou om alles eenkant te sit wat ek van hom teëkom. En mettertyd het dit by 'n kantelpunt gekom.
"Ek het gisteraand daaraan gedink: Ek is in 2000 of 2001 na Sri Lanka, Ceylon, toe - dit is 25 jaar gelede - en die rede waarom ek soontoe is, was om daardie landskap te probeer verstaan wat hy geverf het. Ek het die museums besoek en kon nie toegang kry nie en dit het my mal gemaak.
"Dis 'n bietjie soos Hylton [Nel]. Jy kyk na iets wat hy gemaak het en selfs ná 25 jaar openbaar daardie ding sigself steeds nie heeltemal aan jou nie. Dit ontwyk steeds jou verstaan daarvan. En dít is wat die nuuskierigheid en die soektog lewend hou."
‘My eie verbeelding'
Stevenson het ook in die Oos-Kaap in die omgewing van Graaff-Reinet gesoek na die landskappe wat Daniell uitgebeeld het terwyl hý in daardie omgewing was.

"Ook op teen die Oranjerivier en omstreke om sy tyd dáár te probeer verstaan. Daarby het ek talle museums besoek - die Botswana Nasionale Museum, Museum Africa en plaaslike instellings soos die Fehrversameling en die parlementêre biblioteek. In Brittanje het ek die V&A- en die Britse Museum besoek.
"Ek is ook na ontelbare biblioteke en argiewe op soek na daardie verborge briewe of dagboeke wat nooit te voorskyn kom nie, maar wat dalk nog eendag sal opduik."
Terwyl Stevenson sy eie "groot en komplekse" galery bestuur het, het hy die hele tyd met ánder mense se verbeelding gewerk.
"Dit was moeilik om tyd te vind vir my eie verbeelding. Maar deurentyd was daar altyd klein gapings waarin ek, wanneer ek ook al iets opgespoor het, 'n paragraaf geskryf of dit geliasseer het. Dit was net jare lank waarin ek dit inkrementeel saamgevoeg het. En uiteindelik, nadat ek omtrent drie jaar hier gewoon het, het ek uiteindelik die impuls gevind om weer te begin skryf."
Hy wys na die vallei voor ons en die berge wat aan die ander kant daarvan lê.
"Dit het my eie verbeelding lank geneem om te ontwaak. Daarna het dit seker omtrent nog drie jaar geneem waarin ek elke dag iets gedoen het om dit uit te bring by wat jy hier sien.
"Daar is dus ongeveer 25 jaar se versamelde inligting en ligte [gentle] ordening daarvan. Ek probeer om elke dag iets te skryf, anders kan jy ook jou draad verloor in hierdie uitgestrektheid.
"Samuel Daniell was dus vir my die draad deur dit alles. Eintlik werk dit na twee kante toe. Ek sou dit nie in die stad kon skryf nie - so, die berge het dit aan my gegee, maar die berge vra ook iets van jou."
Thomas Baines
Stevenson wys my in 'n stadium op sy rekenaar die voorblaaie van die agt volumes oor die kunstenaar en reisiger Thomas Baines waarmee hy nou besig is. Hy beskryf Baines as die presiese teenpool van Daniell, aangesien al Baines se dagboeke en duisende van sy sketse, met beskrywings daarby, beskikbaar is.

Van Daniell het so te sê geen briewe of dagboeke behoue gebly wat Stevenson kon opspoor nie - dít is wat die Daniell-biografie des te meer indrukwekkend maak. Penn takseer die enorme arbeid wat Stevenson ondanks hierdie uitdaging verrig het as volg:
Through tenacious historical research he has rooted out obscure documents and followed trails of evidence that have allowed him to write a satisfyingly complete account of Daniell's life and times and illuminated by an artist's eye for detail. He has provided both the historical and the artistic context that the study requires, providing invaluable information about the production and circulation of images of empire in the early nineteenth century and the networks of patronage and publication that facilitated them. Nobody but an art dealer could possibly have tracked down so many of the works of Daniell in order to compile such an extensive catalogue raisonné. And nobody but an art historian could have been so alert to the sensitivity and sensuousness of Daniell's art.
'n Portaal
Stevenson het oor die jare 'n eie versameling van Daniell se werke opgebou.
"Dit het my gehelp om die werk te internaliseer. Om hulle soms op jou lessenaar te hê wanneer jy besig is om te skryf . . . Hulle gesels met jou op 'n manier waarop 'n plat beeld of 'n digitale beeld op 'n skerm nie kan nie.
"Ek het hulle nodig gehad; hulle was 'n portaal waardeur ek 'n weg kon vind na die materialiteit van die werk, want hulle is so subtiel, so gering, so . . . daar is niks overt daaromtrent nie. Jy moet dus werklik die ruimte daaraan gee om sigself te openbaar. Wat dit nié aan jou sê nie is: Dít is waaroor ek gaan. Dít is my oordeel. Ek was op dáárdie dag hier.
"Dit is net hierdie glimpe. So, ja, ek het aangehou om uit die hoek van my oog na hulle te kyk en hulle het na mý gekyk.
"Ná al die jare is ek steeds 'n bietjie verlief op Daniell. Hy is net so speels en so vriendelik en so onbetrokke by die uitkoms van dinge. Baie soos Hylton Nel.
"Waarin hy geïnteresseerd was, is om te sién. Hy was teenwoordig; aktiéf teenwoordig en het geskets. Elke brokkie wat oor hom geskryf is, selfs waar daar net in die verbygang na hom verwys word, beskryf hom as 'n speelse, humoristiese, vriendelike, saggeaarde mens.
"En ek dink dít is ook wat 'n mens se belangstelling in hom laat voortduur - hy was nie 'n stront nie. En, ja, hy was 'n mens van sy tyd; hy het waardeoordele gevel, maar dit was oordeelkundig, dit was nie . . ."
Die tyd waarin Daniell se kort lewe van 36 jaar afgespeel het - hy is in Ceylon aan koors dood - was een wat dikwels verkeerd verstaan word.

"Dit was 'n tyd van eerste ontmoetings. Ons kyk nou, ná 220 jaar van ekstreme apartheid en die ekstreme rassisme en geweld in hierdie land, daarop terug. Tydens daardie eerste ontmoeting was die magsbalans nog nie vasgelê nie, het dit nog nie gestol nie.
"Samuel Daniell was in 1801 noord van die Oranjerivier meer weerloos as die mense wat hy daar ontmoet het. Ja, hy het die imperiale mag verteenwoordig, maar in daardie eerste ontmoetings was hy ongelooflik weerloos.
"Daar was 'n wedersydse nuuskierigheid veral [van die inheemse mense se kant af] oor iemand wat nie 'n Boer was nie, want hulle sou die mense al hier en daar teëgekom het.
"Dit is vir ons baie, baie moeilik om ons terugskouend daardie wedersydse nuuskierigheid van die eerste ontmoetings voor te stel, want dit was so 'n skerfie in tyd wat so vinnig daarna verander en verword het tot die ánder en kategoriserings en stereotipes.
"Hy was dáár om daardie glimp te beleef, en op 'n ander manier as ander mense. As jy na mense soos Levaillant [reisiger en kunstenaar] kyk - hul manier van kyk was so gekondisioneer deur wat hulle vir Europa wou reproduseer. Ja, Daniell, of eerder sy broer en sy oom [ook reisigers en kunstenaars], hét daardie materiaal van hom gebruik om te konstrueer wat hulle gedink het die Britte moet sien, maar toe die sketse aanvanklik gedoen is, was hy volkome aanwesig in daardie oomblikke."
Altyd oogkontak
Aan die kern van al sy uitbeeldings is die oogkontak wat klaarblyklik altyd daar was, sê Stevenson.
"En die feit dat hy geweldig beskeie [self effacing] moes gewees het. Hy het dit nie 'n selfbewuste daad van teken en uitbeelding gemaak nie. Dit was op die periferie, dit was toevallig, dit was betrokke - twee mense wat albei op die grond gesit en na mekaar gekyk het. Iets van: Ek het jou daar sien staan en jou geskets."
Sy versugting is dat mense ánders na koloniale uitbeeldings kyk - verby die voorspelbare aanduiders van kleur, klas en ras.
"Om in 'n sin te vermenslik. Ons is almal mense; ons het almal dieselfde bloed wat deur ons are vloei. Ja, die eksterne aanduiders verskil radikáál en hulle veroorsaak in baie opsigte enorme pyn, maar ons ís almal mense."
Visuele beelde kan iets doen wat dit vir jou moontlik maak om werklik waar te neem op 'n manier wat woorde dit nie dikwels doen nie.
"Ek hoop net Samuel Daniell en die volumes oor Baines verwar ons behoorlik; dat ons net meer vrae begin vra eerder as dat hierdie navorsing en hierdie boeke aan ons die antwoorde bied.
"Ek wil kunsgeskiedenis kompliseer; ek wil hê ons moet nié weet nie eerder as om te weet. En ek wil hê ons moet in daardie ruimte van verwardheid en onbegrip, teenstrydighede en paradokse probeer bly, want geskiedenis gaan geheel en al oor teenstrydighede en paradokse. Ons skryf geskiedenis as 'n reeks morele regte en verkeerde, goeie en slegte dinge. Dit ís nie so nie.
"Die visuele deel van geskiedenis wat ons deur hierdie kunstenaars beleef, help ons werklik om dit te kompliseer en ons te laat besef dat dit nie net 'n moraliteitspel is nie."

![“ ‘Portrait of Samuel Daniell’, [1799] Pencil 18,8 x 13,9 cm”, deur sy broer William. Foto: British Museum](https://media24-netwerk24-sandbox.web.arc-cdn.net/resizer/v2/M34PJLZQAFPMHA7DW3UGK7C56Y.jpg?smart=true&auth=8179e2d30296210923608a7ca8315903edd24a3774782a7f97b7e07e951161e2&width=720&height=405)



![“ ‘Portrait of Samuel Daniell’, [1799] Pencil 18,8 x 13,9 cm”, deur sy broer William. Foto: British Museum](https://media24-netwerk24-sandbox.web.arc-cdn.net/resizer/v2/M34PJLZQAFPMHA7DW3UGK7C56Y.jpg?smart=true&auth=8179e2d30296210923608a7ca8315903edd24a3774782a7f97b7e07e951161e2&width=300&height=200)






