In dieretuine en wildtuine is bordjies aangebring wat lui: "Moenie die diere voer nie." Ons moet ook so 'n bordjie in ons eie lewe aanbring. Ek praat van een wat sê: "Moenie jou kop met negatiewe inligting voer nie."
Te maklik huisves ons enige denkbare storie in ons kop, veral negatief gekleurde stories. Dit gebeur omdat ons almal gekondisioneer is om heel eerste aandag te gee aan negatiewe gedagtes. Dit is soos die neuropsigoloog Gregory Hanson sê: "The mind is like Velcro for negative experiences and Teflon for positive ones."
Ons skuld onsself nie net 'n gesonde liggaam nie, maar ook 'n gesonde kop. Ons moet dit nie gedurig met negatiewe stories voer nie. Ons skuld ons koppe, asook ons harte, en ons lewe die bordjie én die roete van die liefde. Dit moet die woorde van 1 Korintiërs 13:7 verwoord: "Altyd en in alle omstandighede glo die liefde. Dit vertrou ander. Altyd en in alle omstandighede hoop die liefde. Dit verwag die beste van ander. Altyd en in alle omstandighede volhard die liefde." (NNT-vertaling
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. - Filippense 4:8





















