Leonard Cohen se gedig "S.O.S 1995" is aangrypend. Hy skryf onder meer: "Take a long time with your anger, sleepyhead. / Don't waste it in riots. / Don't tangle it with ideas . . . // So I must say it quickly: / Whoever is in your life, / those who harm you, / those who help you; / those whom you know / and those whom you do not know - / let them off the hook, / help them off the hook . . . / You are listening to Radio Resistance."
Die regte soort weerstand is teen-weerstand. Dit is om mense vry te laat uit jou vangnet. Presies dit leer Jesus ons ook. Hy sê jy draai die ander wang. Jy stap weg. Nee, dis nie lafhartig nie. Dis nie vloerlappigheid nie. Dis egte evangelie-vryheid. Dis weerstandige liefde. Dis die moeilike roete waarheen ons opnuut genooi word. In Cohen se taal is dit om na "Radio Resistance" te luister.
In Jesus se taal is dit om ander mense van jou hoek af te haal, selfs al weet hulle dit nie. Dit is om nooit verstrengel te raak in eindelose redenasies of bitter resitasies nie.





















