Akteurs oefen hard voordat hulle enige produksie op die planke bring. Sportmense doen dieselfde. Maande se oefening gaan elke wedstryd of kompetisie vooraf. Ongelukkig werk die res van die lewe nie altyd só nie. Hier word ons nie aldag oefengeleenthede gegun nie.
Wag, voordat ek oorhaastig praat - dalk bied die alledaagse lewe tog heelwat meer oefengeleenthede as wat ons besef.
Daar is elke dag baie nuwe geleenthede om ons geloofsdissiplines van gebed, gasvryheid en vrygewigheid te oefen. Teen die spoed van 'n dag per slag is daar altyd nuwe kanse om te bid en om nuwe kennis van God se Woord op te doen. Ook is daar wie weet hoeveel nuwe geleenthede om daagliks vir mense om te gee.
Selfs al kry ons dit nie elke dag ewe goed reg nie, kry ons dit meer kere reg as waarvoor ons vir onsself krediet gee. En dis goed genoeg . . . ook vir God. Hy werk daagliks in ons deur sy Gees sodat ons daardie goeie werke doen waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Ons gaan doen dit net oor en oor.





















