Sielsdinge

Stephan Joubert: Getrou, ook oor geld

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
(Erla Diedericks)

My skoonpa was 'n omroeper by die ou Afrikaanse radiodiens. Eenkeer vertel hy hoe 'n dominee hulle op die lug uitoorlê het. In daardie dae is eredienste regstreeks van gemeentes uitgesaai.

Leraars is nie toegelaat om reklame te maak vir hulself of hul gemeente nie. Toe wag een dominee tot die slotgebed, waarin hy al biddende aankondig hul bankrekening is amper leeg. Net sodat die Here darem sou weet watter rekening ter sprake is, gee hy toe die rekeningnommer oor die radio, met takkode en al.

Goddank, die meeste kerke en bedienings werk deursigtig met geld. Dit hoort só. Ons as gelowiges is aanspreeklik daaroor voor God. Nogtans is daar altyd geestelike opportuniste in die omtrek, soos 'n geloofsbediening wat my onlangs daarvan probeer oortuig het hulle vra my nie geld nie. Inteendeel, hulle wil maar net vir my 'n wonderlike geleentheid skep om 'n goeie verskil te maak deur 'n ruim bydrae aan hulle te lewer. Dit het my herinner aan dié opportunistiese radiodominee.

Toe besef ek weer ons integriteit is altyd op die spel, veral wanneer dit oor geld gaan.

Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad. - Prediker 12:13-14

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM