In Jesaja 42:8 sê God Hy deel sy eer met niemand nie.
Hy sê dieselfde in Jesaja 48:8-11, waar Hy aan Israel sê hulle is nog nie regtig gelouter in die vuur van swaarkry nie. Ook beteuel Hy sy woede teenoor hulle.
Hy doen dit ter wille van sy eie Naam, want Hy laat nie toe dat enigiemand sy eer steel nie.
God se volk hoor opnuut in Jesaja 48 dat Hy die eerste en die Laaste is. Sy almag is onbeperk.
Om Hom reg te ken en reg te dien is om nooit sy eer te probeer steel nie.
Dit gebeur onder meer wanneer mense se eie godsdienstige ego's alle opregte nederigheid en ware vrees vir God uit die pad dwing.
Dit gebeur wanneer mense wil hê ander moet raaksien hoe vernaam, vroom, geseënd en spesiaal hulle self is. Só kom God se eer in die gedrang.
Ons mag dit nooit laat gebeur nie. Jesaja 42:8 en 48:11 moet diep in ons hart ingebrand word dat God sy eer met geen mens deel nie.





















