Dit is nie so eenvoudig nie. Ek praat van wiskunde. O ja, ook van sport, politiek, ekonomie, teologie en die kerk. Niks is so eenvoudig nie. Nogtans is sommige sake dalk eenvoudiger as wat ons dink. Vat maar God se wil. Vir die meeste mense is God se wil so kompleks dat hulle sê dis 'n misterie. Of dat hulle hulself troos met opmerkings soos: "Toemaar, ons sal eendag verstaan." Of dat hulle sê God het 'n plan vir hul lewe sonder dat hulle ooit weet wat dit is.
Wel, ek dink ons kan God se wil in die Nuwe Testament in 10 woorde vasvang. Hoe? Wel, jy gaan lees net die belangrikste Bybel-dele daaroor en verwoord dit in eenvoudige taal. Dan ontdek jy God se wil is: (a) Doen goed (1 Petrus 2:15); (b) vat teenstand (1 Pe-trus 3:17); (c) wees heilig (1 Tessalonisense 4:3); (d) wees dankbaar (1 Tessalonisense 5:18); en (e) leef vrygewig (2 Korintiërs 5:1-5). Daarsy!
Nou volg die moeilike deel: Kom ons gaan leef nou binne God se wil.
Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land. Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet. - Hosea 10:12
Wie die wil van die Here doen, is 'n bron van lewe; die mens wat wysheid het, red lewens. - Spreuke 11:30





















