Dis goeie maniere om dankie te sê. Só is ons van kleins af geleer. Dis ook reg so.
Dankbaarheid is ook goeie geloofsmaniere. Jesus benadruk dit in Lukas 17 wanneer hy 10 melaatses genees. Een van hulle, wat boonop 'n Samaritaanse buitestander was, kom agterna terug om dankie te sê. Wag, laat ek dit reg sê: Dié man kom sê aan God dankie. Die rede: Hy het dadelik besef met wie hy te doen het. Die nege ander wat ook genees is, het egter nie. Hulle het gedink Jesus is maar net 'n gewone geneser. Wie weet, môre sou hulle Hom weer nodig hê vir 'n ander kwaal. Daarom dat hulle nie dit nodig geag het om te kom dankie sê toe God so mooi by hul lewe ingegryp het nie.
Kom ons leer by hierdie dankbare Samaritaan wat is goeie geloofsmaniere. Kom ons sê gereeld aan die Here dankie. Kom ons tel ons seëninge en vertel elke keer God daarvan as ons bid. Dan wen dankbaarheid in ons lewe. Dan is dit nie net goeie maniere nie, maar sommer ook goeie geloofsmaniere.
Jesus antwoord hom toe: "Is daar dan nie 10 gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?" Toe sê Hy vir die man: "Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered." - Lukas 17:17-19





















