Mense wat opreg voor die Here leef, soek nie gedurig na erkenning nie. Nogtans lek hul geloof gedurig uit. In die taal van Matteus 5:16 skyn hul lig so helder deur die goeie dinge wat hulle doen dat ander mense dit iewers raaksien en God verheerlik. Onlangs het ek dit opnuut beleef toe ek by 'n byeenkoms moes praat. 'n Ou bekende musiekleier, Jan de Wet, het die voorsang daar gelei.
Toe ek ná die tyd na my motor toe stap, merk ek Jan eenkant in 'n klein kapelletjie op. Op sy eie was hy besig om daar te sing. 'n Paar oomblikke het ek net buite by die kapelletjie se deur gestaan en luister hoe hy oefen, en hoe hy alleen daar vir die Here sing.
Toe besef ek opnuut dis hoe die Here se helde leef. As hulle op 'n openbare verhoog moet wees, doen hulle dit tot eer van God, en as hulle weg is uit die openbare oog, doen hulle steeds dieselfde. Dan skyn hul lig ewe helder. Doen asseblief dieselfde!





















