Nou die dag hoor ek weer hoe U2 sing "I still haven't found what I'm looking for". Dis die storie van vele se lewe. Ons het nie 'n idee waarna ons soek nie. Of hoe en waar ons daarvoor moet soek nie. Genadiglik het Jesus nie dieselfde probleem as ons nie. Hy weet presies waarna om te soek. Hy soek na sy kosbare menslike eiendom wat in die wind en weer van die lewe verlore geraak het. Wag, Hy is die groot soeker én vinder.
Hy vind sy mense altyd. Jesus "doen" lost and found.
Hy bring sy mense huis toe. Die sin van die lewe het nie net te doen met ons eie pogings om na betekenis te soek nie. Dit het ook te doen met ons verstaan van ons eie plek in God se plan. Dit het te doen met die wete dat ons gesoek én teruggevind is. Deur geloof is ons nou tuis. Ons is by die huis. Ons strompel nie lewenslank in 'n moeras van onverbondenheid of onsekerheid rond nie
"Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie 'n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.' So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer." - Lukas 15:8-10





















