Karl Plagge was 'n Duitse SS-offisier in die Tweede Wêreldoorlog. Deur sy toedoen is meer as 1 200 Jode se lewe egter gespaar. As offisier in Litaue het hy gesorg dat die Joodse werkers in sy eenheid goeie kos kry, asook werkpermitte. Toe Plagge in 1944 sy posisie moes verlaat, het hy die Jode gewaarsku om skuiling te gaan soek omdat ander SS-soldate hulle sou doodskiet. Nog 250 gevangenes se lewe is gered. Ná die oorlog is Plagge deur die Jode vereer vir sy dapper optrede.
Plagge was 'n Trojaanse perd binne 'n onregverdige stelsel. Die Here soek vandag steeds sulke Trojaanse perde. Hy soek mense wat waagmoedig leef tussen die lyne van gevaar en korrupsie. Dit is sulke mense wat anders na die lewe kyk. Dit is hulle wat korrupsie, nood en lyding regtig raaksien, en wat dit self takel. Hulle wag nie eens op ander se toestemmig nie. Hul eie reputasie en veiligheid is ondergeskik aan hul roeping.
Wat van jou en my? Moet ons nie ook met groter waagmoed tussen die lyne leef in Christus se Naam nie.
Luister na die woord van die Here . . . Gee aandag aan die wet van ons God.
"Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake!" - Jesaja 1:10 en 17





















