Winston Churchill is een van die invloedrykste politieke leiers van die moderne era.
Hy het sy onwrikbare geloof dat Brittanje in die Tweede Wêreldoorlog sou seëvier helder en passievol gekommunikeer. Churchill het deurentyd "a teachable point of view" gehad. Dis hoe die leierskapkenner Noel Tichy sulke doeltreffende leiers omskryf.
Leiers wat die wêreld in die regte rigting laat verskuif, kommunikeer hul visie altyd op verstaanbare maniere. Ook beliggaam hulle hul visie. Dit is presies wat Nehemia in die 5de eeu v.C. gedoen het.
Dit was sy roeping om die juk van die mense van Jerusalem se skouers af te tel sodat hulle God se teenwoordigheid weer kon beleef. Sy sleutel hiervoor was om die stadsmure te herbou. Dit het Nehemia reggekry deur sy besielende voorbeeld, asook deur sy eenvoudige plan dat elkeen slegs daardie stukkie van die muur reg voor hul huis moet herbou.
Toe staan die stadsmuur binne 'n paar maande. Toe tel almal hul kop op. Toe dien hulle die Here weer met oorgawe. Dít alles net omdat een leier met 'n leerbare visie dit doenbaar gedeel het
Ek het vir hulle gesê: "Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal. Ons, sy diensknegte, sal gereedmaak en herbou." - Nehemia 2:20





















