"Moue oprol" was 'n gewilde uitdrukking in my skooldae. Om een of ander rede is "regte" werk of "harde" werk nooit met lang moue verbind nie. Ons moes gedurig hoor ons moet ons moue oprol.
Tweedens onthou ek hoe ouens hul moue letterlik opgerol het vir vuisgevegte op die speelterrein as daar nie 'n onderwyser in sig was nie. Dan was dit bakleityd.
So iets het juis 'n wyle gelede op 'n vliegtuig amper met my gebeur. Dit was toe ek 'n onbekende aangespreek het oor blatante rassistiese taal wat hy kliphard op ons almal losgelaat het. Net daar op die vliegtuig het hy sy moue begin oprol om my te fix. Dit was niks lekker nie.
Moenie jou moue oprol as mense bakleierig is in jou omgewing nie. Hou juis dan jou moue afgerol.
Moet dit ook nie eksklusief met "harde werk" verbind nie.
Werk en leef vir die Here op jou eie, unieke maniere. Skyn vir Hom op mooi maniere wat strook met hoe Hy jou gemaak het. Dan is jy reg aan diens.
Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê. - Job 22:21
Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. - Jesaja 32:17





















