Die digter en aktivis Grace Paley (1922-2007) het gesê "it is the poet's responsibility to speak truth to power", maar toe voeg sy ook by: "and to learn the truth from the powerless."
Albei aspekte is belangrik. Ons almal voel politici en ander magsfigure moet aanspreeklik gehou word vir hul dade. Hulle moet die waarheid by ons hoor.
Maar dit is ewe belangrik dat ons ook na magteloses moet luister. Alle mense het die reg om gehoor te word. Om na magteloses en magtiges te luister, is om regtig leerbaar te wees. Om met respek met magtiges en magteloses te praat, is 'n teken van innerlike karakter.
Ons moet toelaat dat die Here ons karakter aanhoudend vorm sodat ons met integriteit tussen almal kan leef. Ons kyk nie net op na sekere mense en af op die res nie.
Nee, ons hoef nie altyd met almal saam te stem nie. Of meningloos deur die lewe te gaan nie. Allesbehalwe. Nogtans praat en leef ons altyd met die nodige integriteit tussen almal, soos wat die Here van ons vra
Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn.
Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. - Spreuke 31:8-9





















