Om vanuit 'n posisie van mag te praat en leef is iets anders as om vanuit 'n plek van weerloosheid te praat. Dáár het die vroegste kerk hulself bevind. Hulle het geen politieke of religieuse mag gehad nie. Hul leefwêreld was deurdrenk van ander godsdienste. Om elke hoek en draai was standbeelde van Zeus, Apollo, Athena, Artemis en so aan. Oral in antieke stede het godsdienstige kultusse ywerig met mekaar meegeding om openbare ruimte en erkenning.
Die vroeë kerk het geen tempels, voltydse religieuse personeel of openbare feesdae gehad nie. Van huis tot huis het hulle die goeie nuus van Jesus gedeel en uitgeleef. Hier is mense onderrig. Hier is die ete van die Here saam gevier. Ook is arm en siek mense versorg, en was ryk en arm, mans en vroue, slawe en vryes, ewe welkom. Die inhoud en integriteit van hierdie evangelie, wat beliggaam is deur 'n maglose geloofsgemeenskap was egter so magneties dat dit die Romeinse Ryk spoedig oorspoel het. Hoog tyd dat ons by hulle gaan leer van magneties wees.
Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg. - Handelinge 2:42 en 47





















