Jim Stockdale was 'n Amerikaanse krygsgevangene in die Viëtnamese Oorlog.
Ná sy vrylating wou iemand by hom weet waarom het sommige van die krygsgevangenes moed opgegee en is dood. Hy het 'n vreemde antwoord gehad: "Oh, that's easy: It was the optimists." Stockdale het gesê daardie soldate het geglo hulle sal op Kersdag bevry word. Toe dit nie gebeur nie, het hulle hul hoop op Paastyd geplaas of op ander vakansiedae. Nadat al daardie dae gekom en gegaan het, is hulle volgens Stockdale dood aan 'n gebreekte hart.
Optimisme is goed, maar dis steeds nie genoeg om sinvol te leef of om in krisisse te oorleef nie. Geloof wat stroomop en stroomaf volhard, is nodig. Geloof wat in God geanker is en nie net in die hoop op beter omstandighede nie, is nodig.
Gelowiges wat presies dit doen, weet God se teenwoordigheid is hul anker. Hul geloof in Hom dra hulle tot anderkant optimisme. Dit maak dat hulle hul eie vrese en twyfel in die oë kyk, en dat hulle steeds volhard. Hulle leef met die Here se hoop in hul hart.
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! - Romeine 15:13





















