Moenie doen wat Dawid in 2 Samuel 11 gedoen het nie. Hy het sy buurvrou skelm beloer terwyl sy gebad het. Moet ook nie doen wat miljoene mense vandag doen nie. Hulle loer lelike dinge af op die internet. In 'n studie oor pornografiese afloerdery wat in Oktober verskyn het, het die Barna-groep in Amerika bevind 61% van volwassenes doen dit. Sowat 50% erken ander mense weet nie daarvan nie en 84% sê niemand help hulle om hierdie verslawing te beëindig nie.
Skelm afloerdery verwoes jou brein, jou hart en jou integriteit. Dit beroof jou van respek vir ander se liggaam. Dit vervang intimiteit met wellus. Vra gedurig dat die Here jou hart en jou oog van sulke dinge sal bewaar. Soek terapeutiese hulp as jy reeds in die moeilikheid is. Wees altyd deursigtig en aanspreeklik wat jou eie internetgebruik betref.
O ja, as jy kinders het, moet jy hulle met wysheid begelei wat betref die regte gebruik van sosiale media. Onthou, jy betaal vir hul selfoon. Jy bepaal hoe lank, hoe en waar hulle op die internet aanwesig is
"Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.' Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg." - Matteus 5:27-28





















