Eksodus 21:24-25 roep uit: "Oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandwond vir brandwond, wond vir wond, hou vir hou." Deuteronomium 19:21 stel dit sterker: " 'n Lewe vir 'n lewe!"
Die veronderstelling met dié woorde was dat howe in die Ou-Testamentiese tyd sulke strawwe moes toepas. Nogtans het gewone mense dit gedurig in die daaglikse lewe toegepas. So algemeen was die "oog-vir-'n-oog"-leefwyse later dat Jesus in die Bergrede 'n radikale verstelling daaraan gedoen het. Hy het hard en duidelik uitgeroep: Genoeg is genoeg!
Jesus het nie net gesterf vir ons oortredings nie. Hy het ook die Ou-Testamentiese wette in pas met sy eie opofferende lewe en leringe kom bring. Geen wonder nie dat Joh. 1:18 uitbasuin Moses het die wet gebring, maar genade en waarheid het in Christus aangebreek. In 1 Kor. 11 en Gal. 6 kies Paulus om eerder van die wet van Christus te praat. Jesus het nie die wet afgeskaf nie; Hy het dit met Homself as nuwe Norm herskik. Nou begin ons by Jesus as ons vra hoe om God se voorskrifte te gehoorsaam. Nou geld Jesus se "credo" in Matt. 22:37-40 dat ons God en ons naaste moet liefhê soos onsself. Hy noem dit in Joh. 13:34 'n nuwe gebod.
Nou is almal in ons visier van goeddoen en liefhê, nie net ons volksgenote nie. Nou is oog-vir-oog-roetes verbode, soos Jesus in Matt. 5:38-39 leer. Nou is ons vredemakers, tweede-myl-lopers.




















