"Ons is geroep om elders 'n verskil te gaan maak." Dit hoor jy soms as mense emigreer of van werk verander. Soms vang sulke opmerkings my onkant. Ek weet dit moenie, want mense se redes is hul redes. En hul keuses is hul keuses. Maar dit verwar my as mense sê hulle wou nie eintlik emigreer of van beroep verander nie, maar God het hulle geroep. Dan klink dit alte veel dat God dan die skuld vir hul keuses moet kry.
Daar's niks fout met beroepsveranderinge of adresveranderinge nie. Mense hoef regtig nie ellelange redes vir hul besluite aan almal te verskaf nie. Wanneer hulle dit wel doen, moet hulle dit dalk nie regverdig met die woorde dat hulle elders 'n verskil moet gaan maak nie. Dit kan nogal arrogant oorkom. Of dit kan klink na 'n rookskerm vir die eintlike beweegredes. Lyk my dis beter om net aktief in die Heer se Naam aanwesig te wees waar ons ook al is. Dis goed genoeg om te weet ons leef tot sy eer en met integriteit, of dit hier is of daar.
Laat niemand wat versoek word, sê: "Ek word deur God versoek" nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. - Jakobus 1:13
Maar of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. - 1 Korintiërs 5:9





















