Ons is veels te hard op onsself oor ons geestelike tekortkominge. Dalk gebeur dit omdat ons gewoond gemaak is aan die idee dat ons altyd te min vir die Here doen. Maar ons doen nie te min nie - in elk geval nie as ons Hom heeltyds dien nie. Ons tree beter op as wat ons dink. Daarom kan ons saam met Dawid in Psalm 18:22 bely dat ons gehoorsaam is aan God se wil. Ons kan bely ons doen nie opsetlik sonde nie. Ons systap kwaad. Ons bid. Ons sien ander mense se seer en swaar raak. Ons doen ons bes om die Here met oorgawe te dien.
Sonder dat ons dit aldag besef, is al dié goeie dinge waarna Dawid in Psalm 18 verwys die bewyse dat God se Gees in ons aan die werk is. Gedurig is Hy besig om ons tot sy eer te vorm. Daarom is God goed vir ons. Nee, Hy is nie goed omdat ons dit verdien nie. Of omdat Hy ons vir ons gehoorsaamheid beloon nie. Hy is goed. Punt! Daarom wil ons graag binne sy wil leef
Hy het my uitgelei na 'n oopte; Hy het my bevry omdat Hy my goedgesind is. Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte - daarvan wyk ek nie af nie. Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sondeskuld. Die Here het my vergoed op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë.- Psalm 18:20, 23-25





















