Die openingseremonie van die Olimpiese Spele het mense opnuut bewus gemaak van Grieks-Romeinse mitologie, en veral van die "partytjiegod" Dionisos. Volgens die Latynse digter Ausonius was hy in verskillende kulture bekend onder verskillende name, soos Bacchus, Liber, Dionisos, Fanakes en Osiris. Nie-amptelike feeste, bekend as bacchanalia, is oral in die Romeinse Ryk ter ere van hom gevier - gewoonlik in die geheim. In Athene is daar egter in Maart elke jaar vir hom 'n groot openbare fees gehou, bekend as die Dionisia. Dit is gekenmerk deur opvoerings van tragedies en satiriese komedies, en deur uitermatige wynverbruik.
Oor baie eeue heen is oordadigheid, losbandigheid en dronkenskap met Dionisos vereenselwig. Hiervan vertel Latynse skrywers soos Livius en Plautus, asook vroeg-Christelike denkers soos Tertullianus en Klemens Aleksandrinus. Gelowiges in die Romeinse Ryk het mekaar egter gereeld daaraan herinner dat Jesus die ware wingerdstok is (Johannes 15). Dronkenskap en losbandigheid kenmerk sy navolgers se lewe nooit nie, soos Paulus in Efesiërs 5:18 skryf. Hier gaan dit oor 'n Geesvervulde lewe van selfbeheersing en soberheid.





















