Maurice Ravel was 'n Franse komponis, dirigent en pianis. In die Eerste Wêreldoorlog was hy 'n vragmotorbestuurder in die weermag. Eendag het hy in 'n gehawende kasteel op 'n ou klavier afgekom. Toe speel hy daarop. Vir 'n paar hemelse oomblikke het almal saam met hom beleef hoe die donker van die oorlog verdamp.
Die kuns van die lewe is om selfs in die donkerste plekke nuwe lofklanke te laat weerklink. Eeue gelede het Paulus dieselfde gedoen deur 'n loflied te sing. In Handelinge 16 lees ons hoe hy en Silvanus in die stad Filippi uitmekaar geslaan is oor hul geloof. Daarna is hulle in die tronk gegooi. Teen middernag het Paulus lofliedere tot eer van God gesing. Hy moes eintlik treurliedere gesing het, maar toe kies hy lofmusiek. Dit het selfs God se hart aangeraak, in so 'n mate dat Hy die tronk se deure laat oopswaai het. Paulus se lof, ten spyte van sy stukkende lyf, was daardie aand hemelse treffermusiek. Leer by Paulus. Sing en leef die donker uit die pad in God se Naam. - Stephan Joubert





















